Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Alfred Paetzold vertel die storie van die Bybel vir mense van Mosambiek. Foto verskaf.

Alfred vat sy mense op ’n storie-reis

“In die begin was net God daar,” sê Alfred stadig terwyl hy na die regte woorde in Chiyao soek.

Vir dié Afrikaanse sendeling is dit sy sesde taal, wat hy nou vir die eerste keer gebruik om die goeie nuus in die openbaar te verkondig. Dit is die aanvang van ’n nuwe reis vir die hele groep.

Vir Alfred en Belinda Paetzold loop die pad na hier­die spesiale dag reeds oor tien jaar: eers die roe­pingsoortuiging om die evangelie aan onbereiktes te bring; afskeid van hulle loopbane; uitstuur deur die NG gemeente Wierdapark-Suid; studies aan Africa School of Missions naby Witri­vier (later ook in Engeland); uitreikwerk na Masoyi naby Nelspruit; die geboortes van hulle drie seuns; taalleer in Portugal; praktiese oriëntasie in Mosambiek deur voortsetting van die aanleer van Portugees en die breë plaaslike kultuur; toe die ves­tiging in ’n afgeleë dorpie in die Niassa-provinsie; huisbou; die langsame aanleer van Chiyao en die inheemse kultuur, sowel as die vestiging van vriendskap­pe met en praktiese dienslewe­ring aan hulle Yao-bure.

Wêreldwyd deur die eeue heen het gelowiges ’n verskeiden­heid van benaderings gebruik om die Goeie Nuus na ander te bring, elk met sy eie sterk- en swakpunte. Baie gere­for­meerde Suid-Afrikaanse sen­de­linge vind aanklank by “kronologiese Bybelvertelling”, waar­­van die mees bekende weergawe New Tribes Mission se “Building on Firm Foundations” is.

Volgens dié benadering word die verhaal van die hele Bybel geduldig, kronologies in die mense se moedertaal aangebied. Op hierdie manier leer die luisteraars eers iets van die wese van God, en die aard van menswees, soos die Bybel dit vertolk, voordat daar oor Jesus se offerdood en verlossing van sonde gepraat word.

Hierdie metode werk effektief onder groepe wat min of geen kontak met die Boodskap gehad het nie. Die Yao en meeste onbereikte volksgroepe in Mosambiek, het ’n orale kultuur met ’n mengsel van tradi­sionele gelowe en Islam as agtergrond – en ’n innige begeerte om te leer.

Sedert daardie eerste dag van onderrig, het ’n verdere twee jaar vir Alfred en Belinda en hulle kroos verbygegaan. Terwyl Belinda en haar drie tienerseuns op hulle tuisonderrig konsentreer, hou Alfred vol met sy weeklikse onderrigsessies.

Op dié reis met die Woord het hulle reeds deur die Evangelies gewerk, en het verskeie mense reeds die boodskap van die kruis hulle eie gemaak. Maar die lang reis gaan voort; vir dié nuwe dissipels het dit immers skaars begin.

– Lees meer by paetzolds-in-mozambique.blogspot.co.za

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top