Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Pieter Fourie, Noordelike voorstede, Kaapstad, skryf:
Sondagaand ná die kruisiging was die dissipels bymekaar. “Die deure was gesluit, omdat hulle bang was vir die Jode.”
Dié Johannes 20-vers het by my opgekom toe ek onlangs ’n Sondagerediens by een van die NG Kerk se oudste gemeentes in my omgewing se middestad wou bywoon.
Die bord voor die gebou sê: “Almal welkom.”
Ek was so vier minute laat. G’n mens in sig nie. Al drie toegangsdeure toe. Agter ’n hoë traliehek wel ’n paar motors, maar niemand om vir my oop te maak nie.
Een van die drie hekkies in die kerk se ringmuur staan oop, sonder die groot ketting en slot aan soos die ander twee. Dus was die kerkdeur teenoor dié hekkie seker oop?
O wee! Ook dié kerkdeur was gesluit. Geen kennisgewing om my aan te sê om die klokkie teen die deur te lui nie.
Omdat ek nie die wagwoord vir toegang tot dié geslote kerkgroepie geken het nie, het ek dus maar omgedraai, weggery en ’n diens elders gaan bywoon.
Later het ek gewonder: Was daar oor die vakansie dalk geen erediens nie? En die motors staan maar altyd daar geparkeer? Ek het gaan kyk. Maar toe was die motors weg.
Ek het Maandag die kerkkantoor gebel om die wagwoord vir bywoning te kry. Die skriba het my verseker ek is welkom, maar ek moet tog asseblief vóór 09:00 aanmeld. As ek laat is, moet ek teen die deur met die klokkie klop. Iemand sal dan oopmaak.
“En die klokkie?”
“Die bergies het dit gebreek. Hulle is dronk en vuil en kom ontstig ons eredienste.”
Ek het nie gevra hoe daar uitgereik word na die baie buitelanders uit Afrika wat skuins oorkant die kerkgebou in ’n groot woonstelblok woon nie. Ek dink nie die woord “missionaal” sou hier verstaan word nie.
