Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Frits en Nickey van der Merwe

Fritz en Nickey kweek ’n plant met diep wortels

Teen die tyd wat ’n mens saam met Frits en ­Nickey van der Merwe op hulle stoep sit en kof­fie drink, voel jy dat jy die koffie verdien het. As jy nie dae lank padlangs deur Mosambiek (of Zimbab­we en Malawi) gereis het nie, het jy na Lichinga gevlieg en daarna vier ure lank die platteland ingery. Hoe dit ook al sy, vir Suid-Afrikaanse besoekers voel Muapula soos ’n afgeleë oase in ’n baie vreemde wêreld.

Toe die Van der Merwe-gesin in 1995 hier gevestig het, was dit nog méér so. Ná die burgeroorlog was die Mosambiekse Gereformeerde Kerk (IRM) diep besorg oor wye gebiede waar hele taal- en volksgroepe nog nooit die klank van die evangelie gehoor het nie. Daar is met die plaaslike leier en Mosambiekse regering onderhandel vir ’n stuk grond in die noordelike Niassa-Provinsie – en Muapula-sending is gebore.

Nickey was ’n maatskaplike werker, Frits ’n NG ­leraar in Port Elizabeth, en Ansie en Willem nog klein toe hulle uitgestuur is om onder die Makua-Shirima volksgroep te werk. Albei kinders het tot Graad 9 tuis­onderrig ontvang. Toe was daar nog nie moderne kommunikasieverbintenisse nie, net ’n temperamente­le HF-radionetwerk … Ansie is vandag ’n mediese dokter en Willem ’n ingenieur.

Holistiese benadering

In die NG sendingtradisie het Muapula-sending ’n holistiese benadering gevolg. Daar is vandag ’n goedgevestigde IRM-gemeente met eie kerkgebou op Muapula self, terwyl talle groepe gelowiges in omliggende gebiede gereeld rondom die boodskap van die Bybel bymekaarkom. Baie van die lidmate is eerste-geslag gelowiges, maar daar is reeds ’n mooi groep kinders en kleinkinders, wat in Christelike huishoudings kon grootword – en instrumenteel is om die Goeie Nuus ver­der uit te dra.

Terselfdertyd het Muapula ook, onder leiding van dr Gerhard Olivier, die sentrum geword vir die verta­ling van die Bybel in die (toe nog ongeskrewe) Makua-Shirima (of Xirima) taal. Nadat ’n skryfwyse, grammatikaboek en woordeboek ontwikkel is, is die Nuwe Testament-vertaling in 2006 voltooi, terwyl die Ou Testament ongeveer 60% klaar is.

Voordat die staat sy eie kliniek geopen het, het Nickey ’n mediese dienspunt bestuur. In 1997 is ’n laer­­skool ­geopen, wat dit vir behoeftige kinders moont­­lik gemaak het om later beroepe te beoefen wat dié verwaarloosde noor­delike gebiede van ’n arm, ont­wik­kelende land brood­nodig het. Nadat genoeg rege­ringskole in die om­ge­wing geopen is, is die kerkskool gesluit, maar ’n span ge­meentelede, wat deur Nickey opgelei is, help jaarliks tientalle leerders met hulpklasse in lees, skryf en wis­kun­de. Daar is ook skoolge­reed­heidsklasse (waar die kinders se moeders ook kan leer lees).

Muapula-sending speel ’n spesiale rol in die breër kerklike en sendinggemeenskap deur middel van hulle besondere gasvryheidsbediening. Die geriewe op Muapula en pragtige en rustige omgewing, maak dié lokaal geskik vir retraites en konferensies, waarvan gelowiges van verskillende nasionaliteite, denominasies en organisasies gebruik maak. Hierdie bydrae tot groter eenheid, samewerking en begrip is van onskatbare waarde.

Die ruim stuk plaasgrond wat die regering ook in dié vrugbare streek aan die kerk beskikbaar gestel het, word vrugbaar benut om plaaslike mense te help om ekonomies vooruit te gaan.

In 1995 is nie ’n enkele kontantgewas verbou nie – nie eens mielies is verkoop nie. Na die verwoesting van die oorlog was almal brandarm, sommige moes klere van boombas maak.

Die kerk het begin om sonneblomsaad aan plaaslike kleinboere te verskaf en ’n mark vir die opbrengs gewaarborg. Die oes word teruggekoop, op Muapula gepers, en dan as sonneblomolie aan die plaaslike inwoners verkoop. Sowat vyfhonderd gesinne baat elke jaar by die projek. Daar word ook met skape en beeste geboer.

’n Persoonlike vyand

Die Van der Merwes beskou die heersende armoede as ’n persoonlike vyand, en is voortdurend op die uitkyk vir méér geleenthede en gewasse, wat die gemeenskap kan bevoordeel. So is ’n demonstrasieprojek met dui­­f-ert (Cajanus cajan) die afgelope twee jaar aangepak, wat saam met mielies geplant word om die grond te verryk.

Oorlewingsboere aanvaar nie nuwe idees voordat hulle dit eers sien werk nie – ’n mislukte oes kan immers hongersnood en dood in ’n familie bring.

Die nuutste plan is om infrastruktuur te skep wat dit vir mense moontlik maak om koffie te verbou, wat dan sentraal verwerk en bemark kan word. Die eerste koffieplantasie is nou vier jaar oud, en kleinboere begin ernstige belangstelling toon (dié wat dit reeds geproe het, sê: “Dis lekker koffie, dié!”).

Boerdery stel hoë eise in Muapula. Dit is ver van markte geleë, die infrastruktuur is nie na wense nie (dit is in dié omgewing waar dosyne Suid-Afrikaanse boere vroeër jare gaan boer het, maar later tou opgegooi het). Die Van der Merwes byt vas.

Hoe voel Frits en Nickey as hulle oor die jare op Muapula terugkyk? En vorentoe?

“Die evangelie is ’n plant met diep wortels, wat maar stadig groei aan die begin! Hier waar eers niks was nie, is daar nou tientalle gelowiges, wat óns bemoedig deur die diepte en krag van hul geloof. Ons is gelukkig hier, en wil graag nog baie lank hier bly. Ons gebed bly: Mag u koninkryk, ook deur ons, onder die Makuas kom!”.

– Besoek muapulamission.co.za vir meer inligting.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top