By die NG gemeente Kloofendal aan die Wes-Rand is dissipelskap ’n sleutelwoord. En dis ’n woord wat moet oorgaan in dade. Neels Jackson vertel.
In ’n moederskamer by die NG Kerk Kloofendal in Roodepoort het Queen Butterfly ’n tuiste gevind. Dit is ’n organisasie wat bedags sorg vir verstandelik erg gestremdes.
Palesa Mofokeng is die vrou aan die stuur van dié klein organisasie. Sy het vroeër by ’n soortgelyke instansie in die omgewing gewerk, maar besef dat die vraag na sulke sorg baie groter is as waaraan daar voldoen kon word.
Toe gaan klop sy by kerke aan om hulp. Kloofendal was die een kerk wat bereid was om te help, om vir haar ’n lokaal beskikbaar te stel, om haar hand te vat en haar te help sodat Queen Butterfly hopelik later selfstandig en selfversorgend kan word.
Ds De Wet Fourie vertel dat hulle dit doen omdat dissipelskap belangrik is vir die gemeente. Hulle wil vir die gemeenskap iets beteken en die liefde van Jesus uitstraal.
“Die Here seën ons sodat ons ’n seën vir ander kan wees. Die Here het ons lief sodat ons lief kan wees vir ander,” verduidelik hy. Daarom wil Kloofendal ook kerk wees vir diegene wat nie kerk toe kom nie.

Queen Butterfly is een van die projekte waarby hulle betrokke is. Daar is ook ’n steunprogram vir mense wat deur ’n rehabilitasieprogram vir dwelmgebruik is en ’n ondersteuningsprogram vir mishandelde vroue en kinders.
Nie een van hierdie projekte is projekte van die gemeente self nie. Die gemeente ondersteun mense wat nie eens lidmate is nie, om ’n verskil te maak.
Fourie verduidelik dat dit klop met sy prentjie van leierskap. Dit gaan nie daaroor om voor te loop nie. Die leier is eerder die een wat in die modder staan en ander oor die muur help.
“Dit is Christenskap,” sê hy. “Jy sit jouself tweede sodat ander iewers kan uitkom.”
Vir Queen Butterfly het dit beslis gewerk.
“Without NG Kloofendal there would be nothing. It opened so many doors,” sê Palesa.
En nou is daar nie net ’n plek waar vyf gestremdes daagliks versorg kan word nie, daar is ook drome van soveel meer. Daar is sprake daarvan dat een van die gemeente se pastorieë aan Queen Butterfly beskikbaar gestel sal word. Dan sal hulle soveel meer mense kan versorg.
Palesa wil dan ook opleiding vir versorgers doen. Dit, hoop sy, sal help om die sentrum uiteindelik selfversorgend te maak.
Moms Against Drugs is nog ’n groep wat so deur die kerk gehelp word.
Nicole Mouton (27) vertel dat sy self dwelms misbruik het. Sy is deur rehabilitasie, maar voel dat sy dit nie sonder God sou kon doen nie. Nou wil sy ander mense help. Sy het ook ’n kursus as lewensafrigter gedoen.
Hulle het nou twee aande per week byeenkomste by die kerk. Dinsdae is daar ’n selgroep vir mense wat deur rehabilitasie is. Donderdae is daar ’n steungroep vir ma’s.
Kloofendal stel die lokale hiervoor beskikbaar, sê Fourie. Verder ondersteun hulle die leiers, soos Nicole. Maar dan vat dié leiers dit self verder.
Dat hulle ’n belangrike diens lewer, is nie te betwyfel nie. Fourie vertel dat afhanklikheid in alle dele van die gemeenskap ’n probleem is. “Daar is ’n dwelm in elke prysklas,” merk hy op.

By die ondersteuning vir mishandelde vroue en kinders het Kloofendal onlangs betrokke geraak. Hulle kyk nog hoe hulle daar kan help.
Baie van die gemeente se uitreikwerk is gemik op die sakegebied van Roodepoort, ’n area wat 5 km van die kerk af is, en wat soos baie middestadsgebiede die tuiste word vir baie armes.
Dit is nou al 15 jaar dat die gemeente se jeug gereeld daar betrokke is. Vakansietye besoek hulle byvoorbeeld die verskeie dagsorgsentrums daar en elders aan die Wes-Rand. Hulle hou poppekaste en bring die boodskap van die kruis en God se liefde. Hulle speel speletjies met die kinders.
Hulle reik ook uit na die skuilings vir bejaardes.
In die gemeente is daar ’n netwerk van lidmate op wie se knoppies daar gedruk kan word as daar hulp nodig is. Of dit nou komberse is wat ingesamel moet word en of dit herstelwerk is wat iewers gedoen moet word. Daar is mense wat sal help.
Want as dissipelskap vir jou belangrik is, dan weet jy jy leef nie meer vir jouself nie.
