Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

WL Kruger hardloop tussen Ladybrand en De­wets­dorp. Die atlete het hierdie dag altesaam 122 km gedraf. Foto verskaf.

‘Ons hardloop, sing en gesels Christus’

1 976 km, tien atlete, tien sanggroeplede en drie geestelike werkers. Vyf tronke en vele oue­te­huise, kinderhuise – ook ’n plakkerskamp.

Gooi dit alles bymekaar en jy kry die Atlete vir Christus (AVC) – ’n groep Matie-studen­te wat gedurende die wintervakansie vanjaar deur 28 dorpe gehardloop, gesing en oor Chris­tus gesels het.

Die AVC, wat sedert 1975 elke jaar hierdie Christustoer meemaak, het vanjaar vanaf Kosi­baai na Nature’s Valley gehardloop. Hulle doen dit vir ’n baie spesifieke doel – om geld in te sa­mel vir Bybel-Media se gevangenisbediening.

“Die Atlete gee ’n wonderlike energie-inspuiting vir ons bediening aan die gevangenes! Na­tuurlik is die fondse wat hulle insamel broodnodig om ons Bybelstudiekursusse gratis aan ge­vangenes in korrektiewe sentrums regoor die land te kan stuur. Maar omdat hulle so wyd deur die land toer, en van die korrektiewe sentrums op hulle pad besoek, het hulle eintlik Bybelkor se gesig vir daardie gevange­nes geword,” sê dr Hennie van Deventer, hoof van missionêre bedie­ninge by Bybel-Media.

Alta van Schalkwyk, toerleier van AVC, sê hulle mikpunt is om vanjaar R50 000 aan Bybel-Media oor te betaal.

Maar behalwe vir die geld wat hulle insamel, is hulle doel ook om mense op hulle pad te bedien.

Die tien atlete het in skofte na die verskillende dorpe gehardloop en die sanggroep het by ’n paar gasgemeentes opgetree. Vanjaar het hulle ook na nuwe uitreikgeleenthede gesoek.

Volgens Alta het hulle vanjaar vyf tronke in Vryheid, Harrismith, Cradock en Port Elizabeth besoek.

Lourens Bester, een van die atlete, sê hier­oor: “Die tronkbesoeke was ’n ervaring wat my oë laat oopgaan het oor die hoop wat leef in die boodskap van Jesus Christus. Keer op keer het ek in die tronke ingegaan en gedink ’n lekker gesprek, die boekies, liedjies en ’n glimlag gaan die manne binne die tronk se dag dalk ophelder en keer op keer het God my herinner dat Hy reeds in die tronk was nog voor ons span daar opgedaag het. Die manier hoe die gevangenes getuig het van die hoop van Jesus Christus, ten spyte van hulle baie uitdagende omstandighede, het my opnuut hoop gegee dat hierdie boodskap die hoop is vir ons wêreld vol uitdagings.”

In Paterson in die Oos-Kaap, die kleinste dorp waar die AVC tuisgegaan het, het hulle saam met ds Steyn tyd spandeer saam met ’n groep hoërskoolleerders van die plakkers­kamp.

“Ons het soveel by hierdie groepie jong volwassenes geleer. Hulle is so opgewonde oor die toekoms met soveel drome,” het Sonja Smith, sangroepafrigter gesê.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top