In die NG gemeente Worcester-Vallei is die oproep duidelik gehoor: Wees volgelinge van Jesus. Dra sy liefde uit, ook deur kos te gee vir dié wat honger is. Toe antwoord die gemeente met ’n maraton van omgee en kosmaak. Jacobie M Helena vertel.
Op twee winterdae in Junie is daar by die NG Kerk Worcester-Vallei gekook dat die kerkkombuis deur heerlike geure en kleure van ’n verskeidenheid kossoorte gevul word.
Dié idee van ’n kosmaraton, ten bate van mense in nood, het reeds ’n geruime tyd gelede by Anna-Marie Colling, een van NG Kerk Worcester-Vallei se lidmate, ontstaan. “Ek het die idee omtrent ’n jaar terug gehad. Ek was net te sku om met die idee na vore te kom, maar dit het my heeltyd gepla. Ek móés net werk daarvan maak,” sê sy.
Die Valleiers het van Vrydagmiddag 17:00 tot Saterdagmiddag 17:00 die kospotte behóórlik laat kook. Die hele kookproses het by die kerk geskied. Die geregte is daarna in bakkies, wat deur die gemeente voorsien is, verpak en gevries.
“Ons mikpunt was om ten minste een van die vrieskaste wat ons by die kerk het, vol vrieskos te maak, maar die reaksie en die mense se bereidwilligheid was oorweldigend. Die vrieskaste was teen Saterdagmiddag 17:00 met 353 bakkies gevul.
Elke bakkie is genoeg kos vir twee mense. Dit beteken 706 honger mense kan gevoed word,” sê Anna-Marie. Philip du Preez, voeg tong-in-die-kies by: “In die 24 uur wat ons gebruik het om die etes te maak, is gemiddeld 29,24 etes per uur voorberei. Dit beteken dit het ongeveer 2 minute geduur om ’n enkele ete voor te berei.”
Anna-Marie sê dat alhoewel dit haar idee was, kon sy dit nie sonder haar mede-lidmate gedoen het nie. “Ons is so dankbaar vir almal se energie, entoesiasme en tyd. Ons het net weer besef dat ’n klein bietjie van jou tyd ’n baie groot verskil kan maak.
Bakkies vol liefde
“Wat vir my so opvallend was, is hoe die mense wat saamgekook het, in elke bakkie ook liefde gesit het. Hulle het werklik kom kook met gesindhede van Christus se liefde. Dit was ’n belewenis om mense se liefde en harte só te leer ken. En almal se hartskos te kon beskou,” sê Anna-Marie.

Die kookpret het nié net in die kombuis gebly nie. Twee kleingroepe het besluit om hul kookbydraes buite in die parkeerterrein langs ’n gesellige vuur voor te berei. Dit was omtrent ’n mengelmoes van kinders wat speel, kos wat kook, ’n gelag en geselsery oor alles en nog wat rondom die vuur tot laat die Vrydagaand.
Dié groepe beraam reeds hierdie jaar nog ’n potjiekoskompetisie waar die potjiekos wat gemaak word ook in bakkies geskep kan word en aan mense in nood gegee kan word. Anna-Marie beaam: “Die kosmaraton gaan beslis weer aangebied word. Dit moet ’n jaarlikse instelling word.”
Sy moedig ook ander gemeentes aan om dieselfde te doen. “Daar is net te veel honger mense in ons gemeenskappe. Ons kan nie net hande gevou staan en kyk nie,” motiveer sy. “My kinders, wat by die huis nie eens van kosmaak hou nie, het skielik opgewonde geraak oor groente skil en potte roer en sélfs die skottelgoed is vrolik gewas,” sê Selma Pansegrouw. “Ons het opnuut dankbaar vir al ons seëninge geword,” sê Selma.
‘My gunsteling’
Marié-Louise du Preez, ouderling in Vallei-gemeente, het al van die kos begin versprei. Annatjie Bester en Dalene Muller kan nie hulle oë glo toe hul die bakkies kos voor hulle sien nie. “Chicken à la King is my gunsteling!” sê Annatjie báie opgewonde. Dalene voeg by: “Dit is wonderlik. Ek bedank julle uit die diepte van my hart uit.”
Annatjie en Dalene, weduwees wat swaarkry ken, is albei aan Vallei-gemeente verbonde. “Ons versprei die etes nie net na buite die spreekwoordelike gemeentegrense nie, maar ook onder die mense wat nood ín ons gemeente ervaar,” voeg Marié-Louise by.
Die etes word op verskillende maniere versprei. Die geregte word saam met die maandelikse kospakkies aan die lidmate self gegee. Dit word nie net lukraak uitgedeel nie. Daar word ’n punt van gemaak om die kos persoonlik af te lewer en só ook verhoudings met die lidmate in nood te bou en te versterk.
Die ouderlinge en dienswerkers is daarom ook verantwoordelik om vir die kerkkantoor van die nood binne die grense van die gemeente bewus te maak. “Die kos word ook na mense versprei wat die kerkkantoor bel of op watter manier ons ook al in kennis gestel word,” sê Hanlie Cronje, die administratiewe bestuurder by Vallei-kerk.
“Dis nie net groentesop alleen wat mense ontvang nie, maar ook verhoudinge, omgee en liefde. ’n Kosmaraton is óók ’n verhoudings-, liefdes- en dissipelskapmaraton. Die proses het nie Saterdagmiddag 17:00 gestop nie, maar is ’n daaglikse uitdaging van die leef van die gemeente se visie – dissipelskap.
Dit maak nie saak of die mense in nood binne of buite die gemeentegrense is nie. Ons probeer dissipelskap wat gepreek word, leef.
