Die Guernica van die Spaanse skilder Pablo Picasso (1881-1973) lyk nie met die eerste oogopslag na religieuse kuns nie, maar sluit aan by die Bybelse kritiek teen die onmenslike behandeling van weerlose mense.
Die skildery was ’n opdragwerk vir die Spaanse uitstalling by die Wêreldskou van 1937 in Parys. Dit het sedertdien ikoniese status verwerf as ’n vorm van protes teen die sinloosheid van oorlogsgeweld.
Die titel verwys na die dorpie Guernica in die Baskiese deel van Spanje wat in die laatmiddag van Maandag 26 April 1937 meer as twee uur lank deur Duitse bomwerpers gebombardeer en feitlik totaal verwoes is.
Die meeste mans was weg om aan die Republikeinse kant deel te neem aan die burgeroorlog teen die Fascistiese magte van Franco. Die spesifieke dag was markdag, en die meeste van die inwoners (hoofsaaklik vroue en kinders) was in die sentrum van die dorp. Die aard van die bombardering en die brande wat daardeur veroorsaak is, het dit feitlik onmoontlik gemaak om te vlug.
Die opdrag om hierdie gebeure in ’n kunswerk vas te lê, is feitlik onmiddellik deur die Republikeinse regering aan Picasso gegee wat in Parys gewoon en gewerk het. Vyf en dertig dae later was die skildery voltooi en gereed vir die uitstalling.
In dié reusewerk van 3,49 m x 7,76 m word uitdrukking gegee aan die skrikwekkende effek op onskuldige slagoffers – vroue, kinders en diere. Die twee diere wat uitgebeeld word, ’n bul en ’n perd, speel ’n belangrike rol in die kultuur en geskiedenis van Spanje en word gebruik om die Spaanse burgeroorlog as ’n aanslag op die hart van die Spaanse etos te bestempel.
Die bul aan die linkerkant van die skildery staan met wydgesperde oë en bulk bo ’n vrou wat haar leed uitskreeu oor haar dooie kind in haar arms.
Die middeldeel van die werk word in beslag geneem deur ’n perd wat in pyn neerstort as gevolg van ’n gapende spieswond in sy sy. Onder die perd lê ’n verminkte soldaat met sy swaard in sy hand vasgeklem. Bokant die perd is daar ’n gloeilamp in die vorm van die “bose oog” wat skel skyn en verstaan kan word as ’n toespeling op die lig in ’n folteringskamer.
Regs bo die perd is daar ’n bo-aardse vrouefiguur wat deur die venster ingesweef kom en met ’n uitgestrekte arm en ’n brandende lamp die afgryse van die toneel voor haar aanskou.
Aan die regterkant van die skildery kom ’n verbysterde vrou ingestrompel wat verdwaas na die brandende gloeilamp staar. Regs bo sien ons ’n vrou met arms wat in verskrikking en pyn omhoog gelig is, terwyl sy van bo en van onder deur vlamme vasgekeer word. Die regterhand van hierdie vrou suggereer die vorm van ’n vliegtuig.
Die kleur waarmee Picasso hierdie werk geskilder het, is slegs skakerings van swart, wit en grys. Daarmee skep hy enersyds ’n somber atmosfeer wat die pyn en chaos vergestalt, maar andersyds die onmiddellikheid wat met swart-en-wit fotografie geassosieer word.
’n Eerste aanduiding dat Picasso met sy skildery op subtiele wyse aansluiting vind by die Christelike kunstradisie, is die feit dat die lyne wat van die middel bo ’n driehoek na onder vorm, ’n triptiek met ’n sentrale middelpaneel en twee sypanele suggereer. Hierdie soort kunswerk was veral in die Middeleeue die standaardformaat vir altaarskilderye in kerke dwarsoor die Christendom. In teenstelling met die heilsgeskiedenis wat gewoonlik in die kerklike altaarstukke uitgebeeld word, het ons in die Guernica die verskrikking en verwoesting van die onheilsgeskiedenis van moderne oorlogvoering.
’n Verdere toespeling op die Christelike kunstradisie is die vrou en die kind in haar arms wat aansluit by die Piéta-genre waar Maria met die gestorwe liggaam van die gekruisigde Jesus op haar skoot uitgebeeld word. Ook die duif-motief teen die muur regs van die bul sou waarskynlik as ’n verwysing na die Bybelse metafoor vir die Heilige Gees verstaan kon word: die duif is verpletter, maar tog nog teenwoordig.
Wat minder opvallend, maar tog nie minder betekenisvol is nie, is die feit dat Christus se kruiswonde (stigmata) ook gesien kan word in die wond in die hand van die gesneuwelde soldaat en in die gapende wond in die sy van die perd. Met al hierdie toespelings word die lyding in verband gebring met die lyding van Christus – om daarmee te sê dat al die verskriklike gebeure van die geskiedenis op ’n manier opgevang word in die kruisgebeure op Golgota.
Ten spyte van die oorheersende atmosfeer van aakligheid en verskrikking is daar tog tekens van hoop: die brandende lamp in die hand van die vrouefiguur dui daarop dat gebeure soos hierdie nie verberg kan word nie, dat die waarheid daarvan aan die lig gebring kan word; die blom wat groei uit die swaard van die gesneuwelde soldaat getuig dat daar weer lewe uit die mees ellendige situasie kan voortspruit; die kraak in die muur waar die duif verpletter is, laat lig van buite inkom.
Die Guernica het in opdrag van Picasso eers ná sy dood en ná die herstel van demokrasie na Spanje teruggekeer en word tans in ’n galery in Madrid ten toon gestel.
Daar word vertel van ’n Duitse offisier wat ’n besoek aan Picasso se ateljee afgelê het en met verwysing na die Guernica vir Picasso gevra het: “Het jy dit gedoen?” Waarop Picasso geantwoord het: “Nee, julle het dit gedoen …”
▶ Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.
