Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hier maak ons ’n verskil

Dit is twee jaar sedert Charmaine Stoffberg (55) in die bestuurstoel van “een van die oudste nie-winsgewende organisasies in Suid-Afrika” gaan sit het.

Wanneer sy oor die Christelike Lek­tuurfonds (CLF) begin gesels, borrel die woorde spontaan by haar mond uit en ’n “onderhoud” word meer as ’n uur lange gesprek waarin Charmaine meestal die praatwerk doen, sonder dat enige vrae aan haar gerig word.

Daarom is haar volgende woorde dalk, soos sy sê, ’n cliché, maar duidelik vir haar die waarheid: “Ek moet elke dag vir die Here dankie sê dat ek en CLF mekaar gekry het.”

Die Christelike Lektuurfonds het haar in die boekebedryf “gaan kry” waar sy haar hele werksloopbaan betrokke was. Dié ma van twee volwassenes – Divan (32) en Chané (29) – woon saam met haar man, Deon, in Durbanville. Die afgelope twee jaar staan sy in die oggend op, en vat die pad Wellington toe, omdat sy in ander se lewe ’n verskil kan maak deur die werk wat die Christelike Lektuurfonds doen.

En, soos sy, sê sy die span saam met wie sy werk is uiters passievol oor hulle werk. Hulle is ’n klein spannetjie van 12 en daarom kry almal met verskillende aspekte van die besigheid te doen, en dít is ook vir haar opwindend.

Charmaine1
Charmaine Stoffberg – die persoon aan die stuur by Christelike Lektuurfonds. Foto: Hanno Coetzee

Sy vertel hoe ’n vrou elke maand ’n bedrag geld skenk sodat die Christelike Lektuurfonds, wie se doelwit is om die boodskap van die Bybel deur gratis en bekostigbare lektuur te versprei, Bybels aan kinders kan skenk.

Die ouma het besluit om elke maand God se liefde in kinderharte op dié manier te plant nadat haar driejarige kleinseun met aggressiewe kanker gediagnoseer is. Vandag is hy ’n gesonde 10-jarige en haar skenking duur voort uit dankbaarheid.

“Ons het self onlangs Bybels gaan uitdeel aan kankerpasiëntjies by die Tygerberg-kinderhospitaal en dit was ’n ongelooflike ervaring. Dít is wat ons werk hier die moeite werk maak,” sê Charmaine.

Selfs Chinees én Portugees

Waar ons sit en gesels kyk ons af oor die stoorplek waar al die pamflette en boeke gereed staan om hulle pad na klinieke, dokterspreekkamers, kerke en vele meer te vind.

Ek vra waarop ek alles afkyk en sy verduidelik: Die bekostigbare lektuur sluit missionêre boeke, kategese, kerklike en ander Bybelstudiegidse in.

Die gratis lektuur, waarvan voorbeelde jou soos ’n mini-biblioteek teen die muur begroet wanneer jy by die Christelike Lektuurfonds se kantoor instap, is pamflette wat van geestelike tot sosiale probleme soos MIV/vigs, mishandeling van vroue en kinders, depressie, boelie en vele meer dek.

Daar is selfs pamflette in Frans, Portugees en Chinees beskikbaar! En as jy wonder hoekom Chinees? “Want daar het ’n nuwe sendingveld in ons land oopgegaan met elke dorp wat een of meer Chinese winkels het,” sê Charmaine.

Die Christelike Lektuurfonds het ook hande gevat met die NG Kerk en is tans besig om spesiale pamflette vir die Seisoen van Mens­waardigheid te ontwikkel. Hulle werk ook op die oomblik saam met ds Leon Venter, predikant vir Armoede en Sorg in Wes-Kaapland, om pamflette oor vroeë kinderontwikkeling te maak.

’n Nuwe baadjie

Hoewel die Christelike Lektuurfonds volgende jaar hulle 60ste verjaardag vier, het hulle beslis nie agtergebly wat betref vernuwing nie. Charmaine vertel opgewonde van drie nuwe dinge wat binnekort by hulle gebeur.

In Junie 2016 het hulle ’n nuwe slimfoon-toepassing bekendgestel. Volgens Charmaine is die meerderheid van CLF se Engelse pamflette in gewysigde formaat op die toep beskikbaar en onder die volgende kategorieë ingedeel: maatskaplike vraagstukke, geloofsgroei en gemeentetoerusting. “Ons vervang nie hiermee ons huidige produkte nie, ons wil graag mense in die buiteland bereik.” Dié toep is ’n kragtige hulpmiddel om die uithoeke van die wêreld te bereik met die boodskap van die Bybel – veral waar dit moeilik is om sendingwerk te doen vanweë finansiële, logistieke en politieke struikelblokke, lui ’n onlangse persverklaring van CLF.

Tweedens word CLF se “nuwe baadjie” op 10 Augustus bekendgestel deur middel van ’n nuwe handelsmerk/logo. En dan wag ’n groot fees in 2017 wanneer CLF hulle 60ste bestaansjaar vier.

Maar vir meer inligting daaroor, sal julle eers moet wag, sê Charmaine ietwat geheimsinnig …

Gemeentes, het julle geweet?

Die Christelike Lektuurfonds versprei jaarliks meer as 2 miljoen pamflette in meer as 20 tale.

Jy as gemeente kan jaarliks 1 500 pamflette gratis kry (gaan besoek www.clf.co.za om te sien watter onderwerpe hulle pamflette, wat op die Bybel gebaseer word, dek).

CLF daag elke gemeente uit om deel te neem aan hul 60 jaar-projek deur 100 Bybels teen R60 elk te borg, wat R6 000 sal beloop. Vir elke borgskap van 100 Bybels sal die gemeente se naam op ’n virtuele boekrak op CLF se webwerf verskyn. Stuur ’n e-pos na info@clf.co.za of skakel Chandré by 021 873 6964 om betrokke te raak.

Die 60 jaar-projek sluit aan by hul projek Eenmiljoen Bybels vir eenmiljoen kinders, wat poog om ’n miljoen Bybels aan kinders in hulle moedertaal te gee. Tot dusver is 70 500 Kinderbybels al versprei.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top