Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Gedurende hierdie tyd van die kerkjaar bekend as Koninkrykstyd, kom die sogenaamde Klein Profete en dan met name Amos en Hosea in die RCL-lesings aan die bod. Hosea en Amos tree albei in Israel, die noordelike tien stamme van die verdeelde ryk van Dawid en Salomo op. Albei het egter latere redaksionele fases ondergaan en is ook onder meer in Juda (die Suidryk) geherinterpreteer.
Oor die algemeen sou ons kon sê dat Hosea in besonder fokus op mense se verhouding met die Here. Op sy beurt fokus Amos in besonder op mense se verhoudings onderling. Hosea staan egter nie onverskillig ten opsigte van mense se verhoudings onderling nie, terwyl Amos ook ongerymdhede by die kultus ontbloot.
Een van die bekendste tekste uit Hosea wat in die Nuwe Testament, maar ook later in die kerk se geskiedenis ’n belangrike rol speel, is Hosea 6:6. Direk uit Hebreeus vertaal lui dit: “Want troue liefde begeer ek en nie offerande nie; en kennis van God, eerder as brandoffer.”
Die “troue liefde” kan dui beide op ons verbintenis aan God, máár inderdaad ook ons verbondenheid met mekaar onderling. Op sy beurt kan “kennis van God” dui op ’n intieme verhouding met God, maar ook kennis ten opsigte van wat God wil. Wat baie duidelik uit die vers is, is dat die kultus en die beoefening van godsdiens gerelativeer word.
In ons kerk, land en die wêreld is daar vandag ongekende konflik, stigmatisering, vingerwysing, afgrensing en uitsluiting van mense en groepe wat anders as ons is en/of wat ons voel die goeie orde bedreig. In al hierdie dinge speel godsdienste en godsdienstige dogmas en oortuigings geen geringe rol nie.
Dit laat my na aanleiding van Hosea 6:6 wonder of ons nie op die oomblik andermaal op ’n punt is waar ons meer behoort te fokus op ons onderlinge verbondenheid as mense met mekaar en ’n “kennis van God” wat ons bring tot by die punt waar ons die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom nie.
In dié verband het iemand by geleentheid gesê dat die antwoord op die vraag “Watter godsdiens is die regte godsdiens?” is, “How does your religion treat people?” Moet ons nie binne die NG Kerk ’n slag vir mekaar vra “hoe behandel jou godsdiens die mense rondom jou” nie? Hoe raak jou godsdiensbeoefening jou ingesteldheid en optrede teenoor ander? Sien en beleef mense “troueliefde” en “kennis van God” in jou omgaan met hulle?
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.
