‘n Groep van elf lidmate eis in ‘n prokureursbrief dat die Algemene Sinodale Moderamen teen Vrydag 26 Augustus die opskorting van die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge ophef en sodoende daardie besluite onmiddellik van krag verklaar.
Sou die ASM versuim om dit te doen, behou die lidmate die reg voor om die hooggeregshof in Gauteng te nader om die opskorting van die besluite nietig te verklaar en die besluite as geldig te verklaar.
Dit sou beteken dat predikante wat wil, sou kon voortgaan om by die staat aansoek te doen om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig, en dat hulle dit binne die NG Kerk sal kan doen sodra dié administratiewe rompslomp afgehandel is. Dit sou ook die deur open vir mense in gayverhoudings om predikante van die NG Kerk te word.
Die prokureursbrief sluit ‘n regsopinie van avokaat Wim Trengove in. Dié regsopinie voer aan dat die opskorting van die besluite ‘n fout was. Dit weerspreek die regsadvies waarop die Algemene Taakspan Regte en die Algemene Sinodale Moderamen se besluite oor die opskorting van die besluite gegrond was.
Trengove voer onder meer aan dat ‘n appèl teen ‘n besluit van die Algemene Sinode nie deur die kerkorde toegelaat word nie. Daar word slegs voorsiening gemaak vir appèlle na ‘n meerdere vergadering en daar is nie ‘n meerdere vergadering vir die Algemene Sinode nie.
Die reglement wat wel voorsiening maak vir ‘n appèl teen ‘n besluit van die Algemene Sinode is ondergeskik aan die kerkorde en kan nie die kerkorde weerspreek nie. Daarom is die reglement op hierdie punt nie geldig nie.
Trengove meen ook dat dit nie korrek is om te sê dat appèlle volgens die gemenereg outomaties die beslissings opskort waarteen geappelleer word nie. Dit is ook nie vanselfsprekend dat die gemenereg net so op interne kwessies binne die NG Kerk van toepassing is nie. Daarom is dit nie korrek om te sê dat die appèlle outomaties die besluite van die Algemene Sinode opskort nie.
Die eis van die elf laat die NG Kerk nou tussen twee teenoorstaande regsopinies: dié op grond waarvan verklaar is dat die appèlle die Algemene Sinode se besluite opskort en dié van Trengove wat meen dat die opskorting ongeldig is.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM, het gesê hy dink nie dit is ‘n slegte idee om nou deur ‘n hof sekerheid te kry oor wat die regsposisie is nie.
Dit sou kon beteken dat die kerk saam met die elf eisers by die hof om ‘n verklarende bevel kon aansoek doen. Sou die hof besluit dat daar nie teen besluite van die Algemene Sinode geappelleer kan word nie, sou beswaardes steeds beswaarskrifte daarteen kon indien. Dit sou egter nie meebring dat die besluite opgeskort word totdat die volgende Algemene Sinode oor die beswaarskrifte beslis nie.
Die brief word na die Algemene Taakspan Regte verwys wat sal besluit hoe die saak verder gehanteer moet word.
Die elf namens wie die prokureursbrief geskryf is, is prop Laurie Gaum, prof Hendrik Bosman, dr Murray Coetzee, dr Frits Gaum, dr Chris Jones, prop Judith Kotzé, dr Nadia Marais, ds Pieter Oberholzer, prop Hennie Pienaar, Lulanie Vermeulen en die gewese mensregtekommissaris adv Leon Wessels.
