Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wakkerstroom se doopgeselskap. Heel links staan Julia Dlamini en voor in die middel is haar vier dogters in pienk. Van links is Zoe, Leylla, Alzira en Tamia. Langs Julia staan Esther en Marco Pretorius met hulle seuntjie, Emjee en sy boetie, Ewan. In die middel is ds Pieter Malherbe en langs hom staan Stefan en Marelie Landman met hulle dogtertjie Theané en haar sussie, Minante. Heel regs is Richard Nel met sy kinders Riché en RJ. Foto verskaf

Julia het kom vra: ‘Ek wil God leer ken’

Op 26 Junie 2015 het Julia Dlamini by ds Pieter Malherbe se pastorie op Wakkerstroom kom aanklop. Haar versoek was eenvoudig: “Ek wil God leer ken.”

Dié Zoeloesprekende vrou het geen kerklike of Christelike agtergrond gehad nie. Saam met haar fa­mi­lie was sy by die tradisionele verering van die voorvaders betrokke.

Maar ’n paar weke tevore het sy en haar vier dogters by die NG Kerk se erediens opgedaag. Sy het later vertel dat hulle by die kerk (’n imposante gebou in die middel van Wakkerstroom) verbygestap het toe sy die gevoel kry dat hulle daarheen moet gaan.

Pieter vertel dat hulle die diens bygewoon het en daarna saam met die lidmate gaan tee drink het. Hy het gaan groet en die gesinnetjie verwelkom. Die kin­ders se Afrikaans is goed. Die oudste drie is in die Afri­kaanse skole op Volksrust. Julia praat goeie Engels en redelike Afrikaans.

En toe kom sy met die versoek om God te leer ken. Daardie dag, vertel Pieter, is sy uit die duisternis geruk en het sy in die Lig begin lewe. Vir hom was dit ’n voorreg om te sien hoe sy die verlossing deur Jesus aanvaar terwyl sy haar sondes in trane voor God bely.

Die dogters het by die kleuterkerk en kategese ingeskakel en hulle ma is weekliks na die dominee toe vir dissipelskaponderrig. Dit het hulle meestal in Engels gedoen.

Hulle moes heel voor begin – by die skepping en sondeval. Sy het niks van God af geweet nie. Sy het nie eens geweet dat die Bybel ’n Ou en ’n Nuwe Testament het nie. Maar sy het goed gevorder en gou haar Bybel redelik goed geken. Met behulp van ’n liedboek-CD en Jan de Wet se Loflaaities het sy en die kinders gaan­de­weg die Afrikaanse liedere leer sing.

Dit het egter nie sonder ’n prys gekom nie, want haar familie het haar verstoot. Dit was vir haar baie swaar, veral dat haar ma telkens die foon in haar oor dooddruk as sy bel.

By die kerk het sy egter beleef dat sy ’n nuwe familie gekry het. ’n Stoere boeregemeenskap wat haar ingetrek het, gehelp het met die dogters se skoolbehoeftes, hulle tuis laat voel het.

Die kerkraad het belang gestel in haar vordering en later het dit geblyk dat sy gereed is om belydenis van haar geloof te doen. “Sy kon met vrymoe­dig­heid getuig dat Jesus haar Verlosser is en bevestig dat haar kennis van die Woord die fondament van haar geloofsekerheid is,” vertel Pieter.

En toe hulle kyk na datums, sien hulle daar is reeds ’n doop beplan vir 26 Junie 2016 –presies ’n jaar ná Julia se wedergeboorte. Op Wakkerstroom is ’n doop, soos dit hoort, altyd ’n groot geleentheid.

Saam met Richard Nel is Julia as belydende lidmaat bevestig. Sy en haar vier kinders (Zoe, Tamia, Alzira en Leylla) is gedoop saam met Richard se kinders, ­Riché en RJ.

Stefan en Marelie Landman se dogtertjie Theané is deur haar 94-jarige oupagrootjie, Dave Theron, ingebring vir haar doop. Marco en Esther Pretorius se ­seuntjie Emjee is ingebring deur sy 88-jarige ouma­grootjie, Lenie Riekert.

So het Julia Dlamini die eerste swart lidmaat geword in die 155-jarige bestaan van die NG gemeente Wakkerstroom. Nadat die geloofsgemeenskap hulle hart vir haar en haar kinders oopgemaak het.

Sy gaan voort met haar dissipelskapopleiding. Sy bid steeds sonder ophou vir haar familie se redding. Vir haar is dit net genade dat sy gekies is om die Lig te sien.

Die volgende stap, sê Pieter, is om haar op te lei om ander na die Here toe te lei.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top