WORCESTER. – “Ek gaan sorg dat jy bo uitkom,” het pa Pieter Bell gesê toe hy sy Downsindroom-seun, Pietie, 25 jaar gelede vir die eerste keer vasgehou het. Pietie het onlangs die 1 500 m vryslag-wêreldrekord by die Trisome Downsindroom-wêreldkampioenskappe in Florence, Italië opgestel.
Pietie se storie is ’n geloofstorie, vertel ma Elisma Bell. “Die dokter het vir ons gesê Pietie sal nooit ’n bal kan skop nie, maar oor die jare het Pietie al aan ’n reeks sportsoorte deelgeneem en blink selfs in sommige uit. Dis nie ’n pad wat mens alleen kan stap nie. God het oor die jare ’n klomp engele oor ons pad gestuur.”
Pieter, wat ook een van Pietie se swemafrigters is, beaam dit: “Die lys mense wat ons met die jare bygestaan en ondersteun het, is te lank om te noem. Gloria Botha, van die Chere Botha-skool in Bellville, stap al vandat Pietie sewe weke oud is ’n pad saam met ons. Pietie se onderskeie onderwysers en afrigters het hom met soveel begrip en liefde ondersteun.”
Elisma brei uit: “Ons vorige predikante in die NG gemeente Prince Alfred Hamlet, di Quintus Heine en Peet Bester, het ’n groot rol in Pietie se persoonlike geloofslewe gespeel. Quintus het baie moeite gedoen om vir hom Sondagskool-materiaal bymekaar te sit. Down-kinders is baie visueel ingestel en daarom het Quintus spesifiek materiaal gekry wat ’n sterk visuele fokus het.”
“Dis vir Pietie moeilik om in die kerk te sit en wakker te bly. Die Down-kinders is geneig om te sukkel om genoeg suurstof te kry as hulle te lank moet sit. Ek het vir hom van kleins af Bybelstorievideo’s gegee om te kyk en dit het baie goed gewerk. Sy Bybelkennis is fantasties. Hy kyk vandag graag die Afrikaanse kerkdienste op KykNet,” sê Elisma.
Pietie het in Prince Alfred Hamlet onder leiding van ds Peet Bester belydenis van geloof afgelê. “Peet wou ’n paar afsprake met Pietie maak, maar nadat Pietie die dag in ’n haarsalon in Prince Alfred Hamlet vir hulle begin preek en die Bybel byna oorvertel het, het Peet gesê die afsprake is onnodig,” vertel Elisma laggend.
“Pietie is ook baie mal oor bid. Sy skooljuffrou moes in ’n stadium vir hom vra om korter te bid, want hy het nie opgehou nie,” vertel Elisma verder. Pietie kom aangestap met sy Suid-Afrikaanse sweetpak en wys sy medaljes wat hy in Julie gewen het.
“Die Here het vir my die ‘tilent’ gegee om te swem. Liewe Jesus is die hele tyd by my terwyl ek swem,” sê Pietie trots.
