Elf gemeentes van sewe verskillende denominasies span vanjaar weer saam om Delmas se vierde vierjaarlikse musiekblyspel op die planke te bring.
Mev Elna Schoeman, lidmaat van die NG gemeente Delmas-Wes, vertel dat daar 86 akteurs en nog sowat 40 mense agter die skerms daaraan werk om die produksie Onblusbaar van 18 tot 26 September by Delmas-Wes op die planke te bring.
Die produksie begin waar die vorige produksie, Jerusalem! Jerusalem!, vier jaar gelede geëindig het by Paulus se bekering. Dan vertel dit die verhaal van die verspreiding van die onblusbare evangelie soos dit in Handelinge vertel word.
Maar hierdie merkwaardige interkerklike samewerking was nie altyd daar nie. Schoeman vertel dat daar op ’n tyd groot kerklike verdeeldheid op Delmas was.
In 2004 het sy en gemeentelede van die AGS egter besluit om iets te doen om dit te probeer verander. Hulle het geglo sang en teater kan mense bymekaar kry. Daaruit is die eerste interkerklike produksie gebore. Sedertdien doen hulle dit elke vier jaar, so saam met die Olimpiese Spele.
Sy vertel dat die leraars van die verskillende denominasies op die dorp op 29 Mei 2008 in die Deklarasie van Delmas saam verklaar het dat hulle sal saamstaan oor die kern van die evangelie: dat Jesus Christus, die Verlosser is, opgestaan het uit die dood, opgevaar het en sit aan die regterhand van God, van waar Hy sal kom om te oordeel, en aan ’n heilige, algemene Christelike kerk. Oor ander sake gaan hulle nie in die openbaar twis nie. Sedertdien kom die leraarsforum gereeld Donderdae saam om te kuier en saam te bid.
Daar is ook ’n gesamentlike gebedsgroep vir die hele dorp.
Uit die gesamentlike vierjaarlikse produksie van ’n musiekblyspel is daar ook verskeie getuienisse. So het twee susters wat in verskillende denominasies is, vertel hoedat dit vir hulle versoening gebring het toe hulle saam in Delmas se produksie kon sing.
’n Boer wat sy een kind onterf het, het ná die produksie van Houtkruis in 2008 vertel dat dit hom geleer het om te vergewe. Hy het sy testament gaan verander om al sy kinders gelyke erfgename te maak.
Vier NG gemeentes neem deel aan vanjaar se produksie. Hulle is Delmas Moedergemeente, Delmas-Wes, Sundra en Leandra.
Navrae kan gedoen word by 082 736 0169.
