Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Warm tee op ’n koue wintersoggend. Dit word saam met brood bedien. Foto: Isabel Ballot

Doornkloof gee kos vir liggaam en siel

“Ek is aangetrek deur Doornkloof se uitrei­kings­aksies toe ek aansoek gedoen het vir die pos as jeugprediker,” vertel ds Chris Swart, wat bystand verleen by Doornkloof se voedingskema. Hy noem die multikulturele kerkdiens en die tronkbediening in die vrouegevangenis.

En natuurlik die voedingskema wat van Maandag tot Vrydag bedryf word.

Alhoewel reeds geëmeriteer, is ds André Venter en sy vrou Denise, steeds betrokke by die voedingskema. Saam met ds Venter is Denise, ’n deeltydse Afrikaans­onderwyseres, en gemeentelede wat vrywillig kom help, vroegdag al daar om brood te sny en tee te maak vir die 90 tot 100 mense wat deur die skema bedien word.

Die spanleier van die projek is hulle dogter, Maryke Venter.

Daar is egter nie net kos vir die liggaam nie, maar ook vir die siel. Sam, ’n pastoor van Olifantsfontein, meld ook elke oggend aan en voer geestelike gesprekke met diegene wat rondstaan.

’n Kaartjiestelsel vergemaklik die administrasie van die projek. Wanneer die meestal werklose mense by die hekkie inkom, word ’n toegangskaartjie deur ds Venter uitgedeel. By die kombuis kry hulle ’n derde van ’n brood en ’n paar koppies tee. Geld is te min om margarien, konfyt en grondboontjiebotter aan te koop. Daar is ’n spesifieke fonds vir die skema en gemeente­lede dra by. Deurkollektes help ook.

Denise vertel van die oorsprong van die voedingskema en hoe dit oor vyftien jaar ontwikkel het. Die Venters het eers by die pastorie kos uitgedeel, maar toe dit te groot begin raak het, het die kerkraad besluit om dit ’n projek van die gemeente te maak.

“Daar is baie uitdagings,” sê Denise. “Soos maar in enige organisasie.” Die kerkraad het die uitreikaksies in ’n stadium hersien, maar daar is besluit dat dit deel is van die lewe van die gemeente en dat dit moet bly.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top