Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Roy Stamper getuig en bedien die Woord op ’n trein, daar waar hy voorheen misdaad gepleeg het. Hy het selfs ’n mikrofoon sodat die passasiers hom duidelik kan hoor. Foto’s: Mariëtte Odendaal

‘God het my gearresteer,’ sê oud-bendeleier

Na jare as bendeleier, sakkeroller en dwelm­verslaafde is Roy Stamper nou sendeling. Nie in ’n afgeleë land of moeilik bereikbare gebied nie, maar op die trein vanaf Vishoek na voorstede in Kaapstad. Want “dit is wat God wil hê hy moet doen”. Conette le Roux het met hom gesels.


Roy Stamper (43) kom sopas van Bellville se trein­stasie af. Die sweet loop hom af al is dit winter. Langs hom is ’n reuse-sak vol geestelike materiaal wat hy saamdra.

As jy dié groot Xhosa-man sowat 15 jaar gelede raakgeloop het sou jy dalk eerder ’n paar gesteelde beursies en handsakke by hom gekry het. Of dwelms.

“Ek het in die tronk besluit dat as ek uitkom, gaan ek die Woord op treine verkondig. Dit is waar ek voorheen veral verkeerde dinge gedoen het,” sê Roy wat voorheen bendeleier, dwelmverslaafde en sakkeroller was.

In 2004 is Roy vrygelaat uit Pollsmoor nadat hy aan en af vir 15 jaar tronkstraf vir huisbraak en diefstal uitgedien het. Hy is daarna reguit treine toe om te getuig – sonder enige vergoeding of werk. ’n Werknemer van die Arbeidsbediening van die NG Kerk in Wes-Kaapland het hom na drie jaar se volharding op ’n trein gehoor en vertel hulle is op soek na ’n Xhosasprekende man. Só het hy in 2007 vir ’n onderhoud by hulle gegaan.

Carin Brink, streeksbestuurder van Arbeidsbedie­ning Wes-Kaap vertel Roy was een van die eerste aanstellings by hulle. Jy wonder nogal hoe hulle iemand reguit uit die tronk so maklik aanstel.

“Ek persoonlik, wat nog nuut was in die pos, was skepties terwyl hy sy storie vertel omdat ek gedink het: Hoe kan ons so ’n persoon vertrou?

“Roy het egter een ding gesê, voordat hy begin het, wat my voete onder my uitgeruk het: ‘Mevrou, ek het op pad na die onderhoud geworstel met die feit of ek julle moet vertel waar ek vandaan kom en wat my storie is, want dan gaan julle my nie aanstel nie. Die Heilige Gees het my egter oortuig om eerlik te wees en dan sal met my gebeur wat moet.’”

Sy passie vir die werk en die entoesiasme vandat hy sy lewe in God se hande geplaas het, was so aansteeklik dat die twyfel om hom aan te stel, eenvoudig soos mis voor die son verdwyn het.

“Ek het hoendervleis gekry toe hy sy storie vertel en die passie vir Christus het oorgeloop. Ons was nog nooit spyt nie,” sê Carin nege jaar na sy indiensneming.

Carin sê verder: “Hy is die praktiese demonstrasie van Christus se hande en voete op die treine. Mense hang aan sy lippe omdat ’n man wat so ’n lewe geleef het, so ’n omkeer gemaak het. My belewenis saam met hom op die trein is dat daar mense is wat meedoen in sy ‘preek’ en reageer met ‘Amen’ of ‘Halleluja’, maar daar is mense wat stil luister, en diep bewus raak van dit wat hulle hoor. Ek glo dis hoe hy saai en die Here sal op sy tyd laat groei …”

Roy se storie

Roy vertel in perfekte Engels sy verhaal wat in Gugulethu begin het. Sy ma het hom verlaat en by ’n tannie gelos toe hy drie jaar oud was. Sy pa het net op in die pad van hom af gewoon, maar gemaak of hy nie bestaan nie. “Ek het die eerste keer by my pa gaan kuier toe ek twaalf was. Maar hy was nie die man wat ek ge­dink het hy sal wees nie.”

In 1987, toe hy veertien jaar oud was, het hy deel geword van die “Guilty Boys” – ’n bende wat by die gevreesde, groter Ntsara Boys betrokke was.

Roy Stamper1“Op sewentien het ons bende se vyande my aangeval en in die maag gesteek. My ingewande het uitgehang,” vertel Roy.

Die dokters by die Groote Schuur-hospitaal het gedink Roy sal nie weer loop nie. “Ek het tot God gebid vir nog ’n kans. Ek was so jonk. Ek wou nie vir die res van my lewe verlam wees nie.

“God het my gesond gemaak en ek kon weer loop. Maar toe ek uit die hospitaal kom het ek teruggekeer na my ou lewe. Op die ouderdom van sewentien het ek my eie bende gestig. My tannie het dwelms verkoop en ek het dwelms begin gebruik. My lewe was regtig wicked.

“Ek het vreeslike goed aan witmense gedoen. In Gugulethu word dit algemeen aanvaar dat as jy by ’n wit persoon steel, vat jy eintlik wat joune is. Ek het haat in my hart gehad vir wit- en kleurlingmense.”

In 1992 is hy op ’n trein by Langa-stasie deur ’n sekuriteitswag in sy enkel geskiet nadat hy ’n vrou se handsak gesteel het. Hy is in hegtenis geneem en een van sy tannies het vir hom borg betaal. Hy het later vyf jaar tronkstraf in Brandvlei-tronk vir dié misstap gekry.

Daarna het hy twintig dae as straatveër in Kaapstad gewerk, omdat hy sy “verslawing wou voed”, voordat hy weer geswig het voor sy ou lewe. Hy het ’n huis in die Strand gaan beroof en is weer vasgetrap. Hiervoor is hy in 1999 vir tien jaar Pollsmoor toe gestuur.

Terwyl Roy sy storie vertel, skuif die regtermou van sy netjiese baadjie op – die “26”-tatoeëring met ink op sy pols uitgekerf.

Die verlore seun

“Wanneer jy deel van die 26’s is, het jy gesag in die tronk. Ek wou verander maar het nie geweet hóé om te verander nie. Ek het kerk toe gegaan om die tyd verby te kry. Maar een dag het Kairos (gevangenisbediening) gekom … Die eerste dag het niks gebeur nie. Die tweede dag het ek vir die koekies gegaan, maar met die verhaal van Die verlore seun het God my gearresteer.”

Daarna was Roy nog vir ’n tydperk ’n 26 én ’n Christen. Hy vertel hy het nog saam met die ander bendelede ’n sel gedeel. Dit was moeilik om ’n nuwe begin te maak, want die bendelewe was die grootste deel van sy lewe die pad wat hy gestap het, sê Roy.

Tot hy eendag in sy oggendbybelstudie in Lukas 6:24 gelees het dat jy nie twee gode kan dien nie. “Ek het vir die bendelede gesê ek begin nou ’n nuwe lewe en dat ek Jesus volg. Hulle het eers gedink ek maak ’n grap en het gelag, maar het dit later wonder bo wonder aanvaar. Die groot verandering het gekom toe ek ’n werk in die kiosk gekry het en ook na ’n enkelsel kon trek.”

’n Vrou genaamd Joy Lavoipierre van Vishoek het hom finaal gehelp om vrede te kry. “Ek het gesukkel om my ouers te vergewe. Ek het verskriklike goed gedoen wat by my gespook het. Vroue verkrag.”

Vandag noem Roy vir Joy (90) sy “spirituele moe­der”. Sy is ook vandag sy “ma” omdat sy haar oor hom ontferm het soos ’n ma oor haar kind. Joy, wat steeds sendingwerk op haar hoë ouderdom by die tronk doen – vandag saam met Roy op naweke – het selfs vir Roy betaal om vanuit die tronk ’n kursus van twee jaar in teologie te voltooi. Dit is ook Joy wat Roy finansieel ondersteun het vir drie jaar na sy tronkstraf om op die treine te preek voordat hy werk gekry het.

2007 was vir Roy ’n groot jaar. Nie net is hy deur die Arbeidsbediening aangestel nie, maar hy is met ­Cheryl, wat ook voorheen in Pollsmoor was, getroud. Van­dag het hulle ’n dogtertjie, Tina (8) en Roy het ’n stiefdogter, Tozama (22), ryker geword.

Roy se oë blink as hy van sy gesin praat saam met wie hy in Vishoek woon. “Hulle beteken so baie vir my en ek het hulle so lief. Maar dit is die liefde van God wat maak dat ek my gesin werklik kan liefhê. Dit sou nie dieselfde voor my bekering gewees het nie.”

Sy verhaal keer terug na sy daaglikse treinreise. Hy klim elke oggend in Vishoek op en ry na Kaapstad. In Kaapstad kies hy of hy die trein na Bellville of na Khayelitsha gaan vat.

“Nie ’n enkele dag gaan verby wat ek nie my ge­tuienis deel nie. Dis nie altyd maklik nie. Somtyds lag mense vir my. Ander kere is mense kwaad vir my. God het vir my gesê ek mag niks wegsteek nie. Ek vertel dat ek voorheen ook vroue verkrag het. ’n Vrou op die trein het ’n ruk gelede vir my gesê ék gaan nou aan met my lewe, maar wat van die vroue wat ek verkrag het. Ek het gehuil en net geantwoord dat God se genade ook genoeg vir mý is.

“Ek glo dit is wat God wil hê ek moet doen. Hy het my na die treine gestuur. Ek het voorheen net in Xhosa gepreek maar het my Engels verbeter sodat ek nou ook in Engels gemaklik kan praat,” sê Roy.

“Die ongelooflikste ding is dat ek vandag meestal deur witmense of kleurlinge na hulle kerke genooi word om te getuig. En dat ’n wit vrou my aangeneem het. En dít na alles wat ek gedoen het.

Kontak

Gemeentes is welkom om Roy te nooi om sy ge­tuienis te kom lewer. Skenkings van Bybels sal ook baie welkom wees. Stuur ’n e-pos na Carin Brink van die Arbeidsbediening Wes-Kaap by cbrink@kaapkerk.co.za in verband hiermee.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top