Daar is ’n vraag waarmee kerke oor die wêreld worstel: Hoe kan ons die evangelie op ’n vars manier bring aan mense wat kerklos of kerkloos geword het? In Port Elizabeth is daar ’n bediening wat presies dit doen. DANIE MOUTON vertel meer van Punchline.
“Lewe floreer soveel beter in sirkels,” sê ds Cobus Fourie van die NG gemeente Heideveld. Sirkels is vir hom ruimtes van nuwe geloofsgemeenskap waar vreemdelinge reisgenote in die geloof word.
Sy persoonlike roeping is gerig op mense wat tans ver van Christus is, of nie langer deur die kerk se bediening bereik word nie. Hulle moet bereik en genooi word om saam die pad van dissipelskap te loop. Dit gebeur ten beste in sirkels van insluitende geloofsgemeenskap.
Punchline, ’n bediening wat hierdie roeping prakties moontlik maak, is in Maart 2016 gebore. Die bediening trek mense in ’n moderne koffiekroeg in ’n winkelsentrum bymekaar. Naas koffie en eetgoed, word gesing, gebid, oor die Woord nagedink, en nuwe vriende gemaak.
Mense kry die geleentheid om bewus te raak van God se liefde vir die wêreld. Hulle beleef die warmte van samesyn met gelowiges, en leer wat dit beteken om Jesus na te volg.
Hoewel almal welkom is, is die bediening veral op jong volwassenes en ouers van jong kinders gefokus. Die grootste meerderheid is tussen 16 en 40 jaar oud.
Cobus en sy vrou, Madri, ook ’n predikant, is self die ouers van jong kindertjies. ’n Kinder-vriendelike benadering is vir hulle wesenlik. Daarom het Punchline, wat op ’n Sondagaand vergader, twee byeenkomste. Die eerste vind om 17:00 plaas, want dié tyd is geskik vir ouers met kleingoed. ’n Tweede byeenkoms vind om 19:00 plaas.
Punchline is spanwerk. ’n Span van 15 jongmense is verantwoordelik om die koffiekroeg in ’n ruimte vir erediens en konneksie te omskep. Hulle pak uit, stel op, verwelkom, begelei, sing voor, doen beeld en klank, skink koffie, gee toebroodjies aan, en pak weer op.
Die span jongmense kom elke Woensdagaand bymekaar om te praat oor die vorige week se dienste, te beplan vir die volgende Sondag, en te gesels oor wat die bediening nodig het. Hulle bid ook saam. Hulle deel die strewe om mense in Christus te bereik, sodat hulle geloofsgemeenskap kan beleef en deel kan word van ’n familie wat mekaar liefhet.
Alles by Punchline beliggaam die passie om mense by God en by mekaar te bring. “Ons sal enigiets, behalwe sonde, doen om mense vir Christus te bereik.” Daarom werk die koffiewinkel so goed. Dit het al gebeur dat mense net ingestap kom en ons met hulle aan die gesels raak,” vertel hy. Verbygangers word ook genooi, en sluit dikwels aan.
Hulle beplan ook om na mense uit te reik wat nog op die kerk se lidmaatlys is, maar wat prakties nie meer deel is van die kerk se bediening nie.
Deel hiervan is die passie om “irrationally generous” te wees. Dit is inderdaad meer geseënd om te gee as om te ontvang. Daar is ’n groot krat van plastiek in die erediensruimte waar mense enige artikel kan plaas wat vir ander van waarde kan wees. Jy kan ook daaruit neem wat jy nodig het. Die krat heet die BBB, die Big Black Box.
Dieselfde geld dankoffers. “Ons waag dit om die bordjies om te stuur en vir mense wat het, te vra om te gee, en mense wat nodig het, te nooi om daaruit te neem.”
Christene is so geneig om maar net verbruikers te wees wat geluk en tevredenheid verbind aan alles wat ons het. Om in alles vrygewig te wees, ook met jou tyd en belangstelling in die welsyn en geestelike groei van ander, is om te leer om kerk-vir-die-wêreld te wees, om “contributors” te wees en nie “consumers” nie.
Risiko’s
Vir Cobus is dit ook belangrik dat Punchline risiko’s moet loop ter wille van die evangelie. Hulle het al swerwers wat buite in die koue gesit het, na binne genooi en vir hulle kos, klere en liefde gegee. Hulle vertrou bloot die liefde van ’n kerk wat omgee vir mense, raak hulle iewers aan, sluit hulle in, laat hulle wortel skiet.
Toe gebeur dit sowaar. Oom Charles, een van die twee swerwers, het ’n volgende diens bygewoon en selfs ’n dankoffer in die kollektebordjie gegooi. “Hy het my aan die arm weduwee laat dink,” vertel Cobus, “wat maar bitter min het om in te gooi, maar God tog wil dank vir die goedheid wat hy belewe.” Oom Charles het selfs nou ’n mentor wat ’n pad met hom stap.
Uit navrae kon die span vasstel dat sowat 60% van die meer as 70 mense wat Punchline se byeenkomste bywoon, nie aktiewe kerkgangers is nie. Sommige het wel belydenis van geloof afgelê, maar sedertdien uit die kerk verdwyn. Ander het nie ’n kerklike agtergrond nie. Van hulle het al aktief besluit om Jesus Christus te volg.
Punchline wil nie ’n kerk naas die bestaande Heideveld-gemeente wees nie, maar ’n bediening van die gemeente. Daarom ondersoek hulle maniere om die Punchliners van tyd tot tyd by die eredienste in die kerkgebou in te skakel. Die doop van iemand wat die Here begin volg het en tans vir lidmaatskap voorberei, sal waarskynlik so ’n geleentheid wees.
Punchline maak dikwels van Life Church in Oklahoma in die VSA se materiaal vir Woordbediening gebruik. Hierdie bediening is Bybelgetrou, hul missie is om mense getroue navolgers van Jesus te maak en stel hulpbronne digitaal beskikbaar wat regoor die wêreld gebruik word.
Punchline ontwikkel ook eie leierskap. Woordverkondiging geskied ook deur ander, onder leiding van Cobus se mentorskap.
Waar gaan dit alles heen? Cobus sien ’n prentjie ontvou waar omvattende hulp, ondersteuning en tuiskoms in verhoudinge met God en mekaar mense stewig op die pad van dissipelskap plaas.
