Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tieners van Skuilkrans en Pniël tydens ’n bootrit in Houtbaai.

Skuilkrans en Pniël ­verander jong lewens

Die NG gemeente Skuilkrans in Pretoria en die Congregational Kerk in Pniël in die Wes-Kaap bring die afgelope vyf jaar al van hulle tieners bymekaar in ’n “oefening in versoening”. Ds Nico Swart van Skuilkrans het met Neels Jackson daaroor gesels.


Dit het begin toe dr Quintin Williams by Skuil­krans begin inskakel het, vertel Swart.

Williams is ’n elektroniese ingenieur verbonde aan die WNNR in Pretoria. Hy het in Pniël groot­geword. Op pad werk toe in Pretoria het hy daag­liks by Skuilkrans se mooi kerkgebou verbygery. Later het hy eredienste begin bywoon en toe op ’n uitreik saam met die gemeente Mosambiek toe gegaan.

Dit was op pad terug in die bussie dat hulle aan die ge­sels geraak het, vertel Swart. Toe ontdek hulle hulle was albei in Paul Roos Gimnasium op skool.

Een van die groepe gee terugvoer oor hulle land, Livenië, en hoe hulle wil hê dit moet wees.

Williams het met die voorstel gekom dat hulle van Skuilkrans se kinders op ’n blootstellingtoer Pniël toe neem. Vanjaar was dit die vyfde jaar wat hulle dit gedoen het. Hulle neem die graad 10’s omdat dit in Pniël die belydenisklas is.

In Pniël gaan hulle by lidmate tuis. Dit is deel van die gasvryheidsbediening wat vir die kerk daar belang­rik is, omdat hulle die keuse gemaak het om ’n missionale kerk te wees.

Vorige jare het hulle oor die langnaweek van 27 April gegaan. Dan het hulle plekke besoek soos Rob­ben­eiland, Distrik 6, die Kasteel en strande wat vroeër vir witmense gereserveer was. Dan het hulle met mekaar gesels oor wat alles in Suid-Afrika verander het.

Vanjaar het hulle Tafelberg saam uitgeklim, ’n boot­rit in Houtbaai gedoen, Chapmanspeak en die Waterkant besoek en by Bettiesbaai gaan kamp.

Daar het eerw Leon Klate van Pniël ’n oefening met die kinders gedoen wat hulle diep laat dink het oor die land waarin hulle bly en wil bly.

Die kinders is eers in groepe ingedeel, met kinders van Skuilkrans en Pniël in elke groep. Daarna het elke groep dieselfde opdrag gekry. Hulle is ’n politieke party wat pas die verkiesing gewen het. Nou moet hulle ’n naam kies vir hulle party en ’n naam vir die land. Hulle moet ’n volkslied vir die land skryf en nasionale simbole kies: ’n vlag en ’n nasionale dier en nasionale blom.

Hulle moet ministers aanwys en vir elkeen ’n portefeulje kies. Daarby moet hulle die tien belangrikste lands­wette opstel en vyf morele waardes kies wat ten grond­slag daarvan lê.

Die onderliggende vraag was hoe hulle geloof neer­slag vind in die praktyk.

Die groepe moes vir mekaar vertel waarop hulle be­sluit het en by die kampkonsert moes hulle ’n toneel opvoer wat wys hoe dit gebeur. So was respek ’n belang­­rike waarde en een groep het ’n klastoneel uitgebeeld – eers waar daar nie respek vir die onderwyser is nie en dan waar daar wel respek vir die onderwyser is.

Quentin en die kinders
Dr Quintin Williams gesels met die kinders tydens ’n natuuruitstappie.

Nie net het dit kinders kans gegee om oor belang­rike kwessies te dink en te gesels nie. In die proses is daar ook skanse tussen mekaar afgebreek en het kin­ders begin om oor grense heen met mekaar te sosialiseer.

En dis nie net die dominees wat dink dit is ’n waar­devolle oefening nie. Die kinders beleef dit ook so.

Een van Skuilkrans se tieners het na die tyd geskryf: “Die week was vir my besonders omdat ek baie nuwe ervaringe kon beleef saam met nuwe mense asook baie nuwe vriendskappe kon sluit. Ek het nooit geweet dat mense so gasvry kon wees totdat ek in Pniël gaan bly het nie. Ek kon regtig nie vir beter vriende gevra het as vir dié wat ek gemaak het nie.”

Iemand anders se terugvoer was: “Die week het my baie geleer, veral vir my om uit my comfort zone uit te kom en meer van ’n ander kultuur te leer, te verstaan en te respekteer. Hulle het ons met oop arms ontvang en ons dadelik ingeneem. Almal het hulle manier ge­kry om diep in my hart in te kruip. Ons maak klaar plan­ne om mekaar in die toekoms weer te sien. Ek het baie by hulle geleer en ek is baie dankbaar daarvoor. Ek hoop die res van die wêreld kan ook eendag hulle oë oopmaak en sien dat ons almal dieselfde en ewe belangrik is.”

En nog een het laat weet: “Dankie vir die week wat verby is. Dit was life-changing.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top