Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

By Coram Deo word mense se stories verander

Die afgelope jaar of wat het Coram Deo van Pretoria af na verskillende ander plekke in Suid-Afrika uitgebrei. Neels Jackson het hieroor gaan gesels met dr André Botha.


“Hou op hardloop. Dupliseer jouself.”

Hierdie woorde van ’n besorgde lidmaat het ’n baken geword in die bedie­ning van dr André Botha, predikant van die NG gemeente Pretoria-Oosterlig.

Botha vertel hy is in 1989 na Oosterlig beroep met die opdrag pastoraat.

In die volgende dekade het hy homself ingegrawe op die terrein van pastorale narratiewe terapie. Hy het ’n meesters- en doktorsgraad gedoen en was betrokke by die Instituut vir Terapeutiese Ontwikkeling wat deur prof Dirk Kotzé van Unisa op die been gebring is.

Sy doktorsgraad het gegaan oor getroude mans wat verhoudings met ander vroue aanknoop. Hy vertel hoe daar ’n romantiese storie in so ’n man se kop groei. Dit is ’n fiktiewe, idealistiese beeld wat gevoed word deur romantiese literatuur, popliedjies, TV en flieks.

Coram Deo opleiding
Dr Faure Louw besig met ’n opleidingsessie by Coram Deo. Foto’s verskaf

In wese is dit niks anders as ’n taalkonstruk nie, ’n storie in sy kop, maar dit word so kragtig dat dit sy breinchemie verander. Dit laat hom totaal perspektief verloor wat hom sy vrou en kinders vir hierdie ander vrou sal laat los.

Die nuwe verhoudings is egter van die mees onstabiele verhoudings wat daar is. Die meeste daarvan verbrokkel binne ’n jaar.

Sy proefskrif het gegaan oor hoe ’n mens die storie in so ’n man se kop kan dekonstrueer deur ’n gewone gesprek – sodat hy die man in staat kan stel om beter etiese keuses te maak.

Vir Botha is dit ’n “fantastiese werk” om so met mense se stories te werk, om hulle te help om die ska­de­like verhale in hulle kop te ontrafel en alternatie­we verhale te bou.

Hy vertel dat mense flenters in sy kantoor instap en anders daar uitstap. Soms gebeur dit in ’n enkele sessie. Soms verg dit ’n reeks gesprekke oor ’n tydperk van selfs ’n jaar.

Maar teen 1998 was Oosterlig ’n gemeente van ­5 000 mense, hy was een van sewe predikante en die pas­toraat is sy verantwoordelikheid. Dis toe dat ’n lidmaat vir hom sê hy moet ophou hardloop en homself dupliseer.

Hy het besef hy kan ander mense oplei om dié soort berading te doen.

Dis waaroor Efesiërs 4:11-12 gaan, sê Botha, om ge­lo­wiges toe te rus vir hulle dienswerk in die gemeente. Dit gaan ook daaroor dat passiewe lidmate toegerus word om aktiewe lidmate te word, van ’n gerigtheid na bin­ne wat verander in ’n gerigtheid na buite.

Hy het aanvanklik begin om ’n groep huisvroue op te lei om hospitaalbesoek te doen. Toe hy dink hy het hulle klaar opgelei, wou hulle nie ophou leer nie. Van dié vroue lei vandag ander mense op.

’n Lidmaat wat deur ’n kaping is en wat by Botha was vir berading, was so dankbaar dat hy ’n ruimte be­skik­baar gestel het vir die werk. En so gebeur dit dat Coram Deo (die naam beteken “Voor God” of “By God”) in 2003 as ’n sentrum vir pastorale narratiewe terapie op die been gebring word.

Dis ’n bediening van die gemeente, maar dis gere­gis­treer as ’n nie-winsgewende onderneming met ’n eie direksie.

Coram Deo se werk staan op twee bene. Aan die een kant word daar berading gedoen. Die kliënte kom van wyd en syd. 80% van hulle is nie lidmate van Ooster­lig nie. Dít, sê Botha, pas by een van Oosterlig se kernwaardes, naamlik dat die gemeente primêr vir sy nie-lede bestaan.

Die ander been van die werk is opleiding, met die tweejaarkursus in pastorale narratiewe terapie wat by Tukkies geakkrediteer is, as die vlagskip daarvan.

Daarmee stel hulle ook ’n dialoog daar tussen die Bybel en menswees. In die verlede het die kerk soms gewerk met ’n eng Calvinistiese mensbeskouing wat bloot sê dat almal in sonde ontvang en gebore is. As iets skeef loop in iemand se lewe, is so iemand bloot onder tug geplaas, maar dit het nie gehelp nie.

Andre Botha
Dr André Botha van Coram Deo.

Die narratiewe benadering werk met mense se verhale – en dit het ’n ongelooflike wye toepassing, vertel Botha. Mense kom doen Coram Deo se kursusse vir selfgroei, om hulle self en die familiebesigheid heel te maak, om menswees te bemeester.

Daar was ’n skoolhoof wat gesê het sy manier van hoof wees het verander en daarmee saam het sy hele skool verander, danksy dit wat hy by Coram Deo ge­leer het.

Botha vertel van ’n sakeman wat vroeër elke se­wen­de week vir ’n week Kanada toe is vir leierskapsopleiding. Hy het die sakeman na Coram Deo toe genooi en sy lewe het verander. Toe dié man George toe trek, wou hy dat daar met ’n Coram Deo begin word.

So het dit gebeur dat Coram Deo ook gedupliseer is. In 2015 is daar kampusse in Mosselbaai, George, Constantiakruin aan die Wes-Rand en Benoni aan die Oos-Rand gevestig. In KwaZulu-Natal word drie kampusse beplan.

Botha sê die gedagte is nie om ’n klomp franchises te vestig of ’n Coram Deo-koninkryk te bou nie. Hulle wil net gemeentes help om soortgelyke pastorale sentrums aan die gang te kry. ’n Mens kan die pastoraat nooit losmaak van die gemeente nie. Hy glo ’n kerk­raad moet ’n visie hê vir ’n projek soos Coram Deo.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top