Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Rikus van Zyl bedien nagmaal aan die motorwagte by die Pick n Pay-hipermark. Foto: Tertius Botha

‘Die Here het die kerk na ons gebring,’ sê motorwag

Wanneer motorwagte nie by die kerk op Sondagoggende kan uitkom nie, kom die kerk na hulle toe. Danksy die NG gemeente Fichardtkruin in Bloemfontein se motorwagbediening op die Pick n Pay-hipermark se parkeerterrein. En reg langs dié einste parkeerterrein is twee van die motorwagte onlangs getroud en is hulle babatjie gedoop. Sommer na ’n dag se werk. Conette le Roux vertel.


“Vir my is dit baie belangrik om kerk toe te gaan, maar dit is meestal nie moontlik vir my nie. Maar die Here het die kerk na óns gebring.”

Só vertel Peet Engelbrecht (52) oor die telefoon waar hy op die parkeerterrein van die Pick n Pay-hiper­mark in Bloemfontein staan. Peet is die toesighouer vir die motorwagte wat daagliks motors hier oppas.

Elke Sondagoggend 8:00 kom ’n dominee of lidmaat van die NG gemeente Fichardtkruin se mannegroep na dié motorwagte om hulle met die Woord te bedien.

Die voorreg om ’n kerkgebou op ’n Sondag te besoek is motorwagte nie beskore nie, en dít het ’n gemeentelid vreeslik gepla, sê ds Rikus van Zyl, predikant by die Fichardtkruin-gemeente.

Hennie de Lange, ’n gemeentelid, het voorgestel dat hulle die motorwagte op die Pick n Pay-hipermark se parkeerterrein gaan bedien. En só is ’n motorwagbedie­ning gebore wat elke Sondagoggend die kerk na ’n parkeerterrein bring. Sommerso in ’n kring word God se naam geloof en selfs nagmaal gehou.

“Ek het in 2009 die toesighouer van die motorwagte genader en hulle was baie bly dat ons met ’n Sondagoggend-erediens om 8:00 voor werk gaan begin. Ek en my kollega, André van Staden, hou so een keer per maand die diens. Ander geleenthede word deur die gebedsgroepmanne en ander manne in die gemeente gehou. Hulle word selfs deur die motorwagte as dominee aangespreek. Een keer per kwartaal word die nagmaal bedien en dan woon al die ander erediensleiers dit ook by,” sê Rikus.

Mens agter die motorwag

Vir Rikus is dié bediening baie kosbaar. “Ek het die mens agter die motorwag leer ken. Met hulle seer, hulle behoef­tes en veral hulle dankbaarheid teenoor die Here.

Peet en Yolande
Dubbele vreugde! Peet en Yolandé Engelbrecht glimlag breed nadat hulle in die huwelik bevestig is én hulle dogtertjie, Yolanél, op dieselfde dag gedoop is. Foto: Rikus van Zyl

“Hulle toegewydheid in hulle werk, ten spyte van die natuurelemente wat soms rof kan wees. In die somer is dit die son wat neerbak op die teer. Dan reën dit. En dan is daar nog die snerpende koue van Bloemfontein se winters.

“My hart krimp ineen oor hoe hulle soms geïgnoreer word wanneer hulle groet en vra of hulle iemand se motor kan oppas. En deurgaans bly hulle vriendelik. En hulle is skerp: Hulle onthou watter mens pas by watter motor!”

Peet, wat al 12 jaar ’n motorwag is, beaam dat die weer soms baie moeilik kan wees, maar sê: “Jy raak gewoond daaraan. Dis jou brood en botter. Jy kan nie besluit om nie te werk omdat die weer sleg is nie.”

Peet se toegewydheid word duidelik nadat hy nie die eerste keer sy selfoon antwoord nie, want, vertel hy later: “Ek moes eers ’n probleem uitsorteer van iemand wat ’n kar wou steel.”

Peet se vrou, Yolandé (37), is ook ’n motorwag op dié parkeerterrein en voel ook die omstandighede is maar soms uitdagend. Maar vir haar is dit die moeilikste as mense haar slegsê. “Sommige mense besef nie dis jou werk nie. Ander sê darem ook dankie. Daar is ook mense wat sê hulle koop net met die kaart en het nie kontant nie, maar dan gee hulle ietsie soos ’n koel­drank. Ons waardeer dit baie!”

Dubbele vreugde!

Peet en Yolandé is ook baie dankbaar vir “ds Rikus” wat ’n geleentheid van dubbele vreugde vir hulle moontlik gemaak het. Dié twee mense het ook liefde in mekaar op die einste parkeerterrein gevind. En daar­om was Sondag 27 September 2015 ’n groot dag vir Peet en Yolandé, wat al 17 jaar motorwagte is. Hulle het twee feeste op een dag gevier toe Rikus hulle in die huwelik bevestig het én hulle vyf maande oue dogtertjie, Yolanél, gedoop het.

Peet vertel hulle het Rikus gaan sien om hulle te trou en omdat hulle hul kind “in die naam van die Here wil grootmaak” ook gevra dat hy hul babadogtertjie doop. Daar is toe besluit om dit sommer op een dag te doen.

“Sondag 27 September 2015 – net na 15:00 – is die knoop deurgehak in die biblioteek net langs die parkeerterrein waar ons gewoonlik die eredienste hou,” vertel Rikus. Die troue sou aanvanklik sommer onder ’n boom in die parkeerterrein plaasvind, maar die departement van sport, kuns en kultuur het die biblio­teek se voorportaal beskikbaar gestel.

“Na die troue het ek hulle kleinding gedoop. Dit het alles na werk gebeur. Die wonderlikste was dat daar uit die gemeenskap van Bloemfontein ’n oorvloed van eetgoed en koeldrank was. Daar is behoorlik fees ge­vier! En die Maandagoggend was hulle op die voorblad van Volksblad.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top