Dr Kobus Myburgh het op 1 Julie 2016 begin as hoof van die NG Kerk se kerkeie opleiding by Tukkies. Neels Jackson het met hom gesels.
Dit is Kobus Myburgh se blou oë wat ’n mens na ’n gesprek bybly. Of liewer die opgewondenheid in sy oë, die rustige vreugde wat telkens daarin blink as hy praat.
Byvoorbeeld oor die teologiestudente met wie hy nou by Tukkies werk. Op 1 Julie het hy daar begin as die hoof van kerkeie opleiding. Nou is hy die pastor van die 75 studente van die NG Kerk wat in verskillende fases trek van hulle ses jaar opleiding om dominees van die NG Kerk te word.
“Ek hou van hulle. Ek is lief vir hulle,” sê hy. En sy oë beaam dit.
Hy vertel dat dit vir hom oor baie meer gaan as ’n oopdeur-benadering met die studente. Hy gaan na hulle toe. Hy doen huisbesoek by hulle. Hy bestee tyd saam met die studente.
Dit is vir hom wonderlik om as ’n ouer predikant (hy is nou 58) by ’n student te sit en die geleentheid te hê om dit wat hy in dertig jaar se bediening geleer het, met so iemand te deel, om met so ’n student te gesels oor wat dit beteken om ’n dominee te wees.
Net die vorige dag, vertel hy, was hy by ’n student wat akademies sterk is, wie se gesig blom omdat sy ’n dominee wil wees, en saam met wie hy opgewonde kon wees daaroor.
Daardie selfde opgewondenheid is ook duidelik as die gesprek ’n ander koers inslaan, soos as ’n mens vra wie Jesus is, die Een oor wie Kobus sy doktorsgraad gedoen het.
“Jesus is dié ongelooflike God wat Homself in ons wêreld kom inskep – en dít wat God nog altyd kom doen het, weer kom doen het: om by mense teenwoordig te wees,” sê hy.
Hy voel mense het so gewoond geraak daaraan om te praat van God se teenwoordigheid, dat hulle nie meer die grootheid daarvan besef nie.
“Dat Hy kies om met ons te doen te hê …” sê Kobus, en sy oë blink van verwondering.
Dan praat hy oor die pad wat Jesus kom loop het, en dat dit sê dat ’n mens nêrens kan kom waar God nie is nie.
Daarom dat hy voel dat ’n mens nooit die woord “godverlate” kan gebruik nie. So sterk voel hy daaroor dat hy ’n nuwe woord maak om daaraan uitdrukking te gee. “Godverlate” is ’n “wanwoord”, sê Kobus.
Hy vertel dat hy soms na sy hond kyk en wonder: Wat weet jy van my? Ja, die hond is lief vir hom en kom kruip by hom weg, maar eintlik het die hond nie ’n idee wie hy is en wat hy alles doen nie.
So is ons met God, vertel Kobus. Jy kan baie seker wees oor God se liefde en genade, “maar jy kan Hom nooit vasvat nie. Hy is baie groter as wat ek dink.”
Dis met hierdie beeld in gedagte dat Kobus vir hom ’n e-posadres gekies het met die woord “canis” (Latyn vir “hond”) daarin: canismyburgh@gmail.com.
Hierdie verwondering oor God wil Kobus met die studente deel. Dit is die agtergrond waarteen hy met hulle gesels oor wat dit beteken om predikant te wees.
Hy wil die studente help om koninkryksmense te wees. Die kerk is die voertuig daarvoor. Die kerk is die instrument wat dit moontlik maak.
Hoe verstaan hy die koninkryk van God?
Nie soos mense dink oor die Britse koningshuis nie. Dié is maar ’n toeriste-aantreklikheid.
In die tyd toe die term “koninkryk van God” gemunt is, het die koning alle mag oor sy onderdane gehad. Mense was uitgelewer aan die keiser.
Vandag sê die term dat God die een is in wie se hande ons volledig is, sê Kobus, en voeg dadelik by: “Anders as die keiser, is God genadig.”
“Waar koninkryksmense is, daar is die koninkryk van God,” gesels hy verder. “Waar ons leef as mense in sy hand, daar is die koninkryk.”
As deel van sy werk is Kobus nou besig om ’n nuwe kurrikulum te skryf vir die nuwe nagraadse diploma wat Tukkie-studente van 2017 af in hulle finale jaar gaan doen.
Gemeenteblootstelling sal steeds die basis wees van studente se laaste jaar, maar hulle sal voortaan ses kontakweke hê en die akademiese komponent gaan ’n bietjie groter word, sê Kobus.
Maar vir hom gaan dit oor baie meer as akademiese insette. Hy wil in die studente se menswees belê.
Vir die kerk wil hy sê “hoe ongelooflik belangrik” hierdie studente is. Dit is die mense wat sê hulle gaan hulle lewe wy aan die kerk.
Hy word hartseer as hy hoor ’n voornemende student sê hy dink daaraan om teologie te studeer, maar dat hy dit nie met sy dominee wil bespreek nie, want hy is bang die dominee raai hom af.
Wat hom betref is dit ’n belewenis om die werk van ’n dominee te doen.
Daarom dat hy nie maar net soos ’n geleerde voor die studente in die klas wil staan en kennis met hulle deel nie. Hy wil saam met hulle op pad gaan.
Hy wil sy opgewondendheid oor Jesus, oor die koninkryk van God en oor domineewees met hulle deel. “Die voorreg om ons werk as dominees te doen, dis verbysterend,” sê hy.
