Dis ironies dat sy met die kerk kom praat oor versoening terwyl haar eie party aan die brand is.
So het me Hlengiwe Mkhize, adjunk-minister van Pos- en Telekommunikasiewese, op Maandag 5 September aan die Algemene Sinodale Moderamen van die NG Kerk gesê. Sy het toe pas teruggekom van Luthulihuis, die hoofkantoor van die ANC, waar faksies van die party teen die leierskap betoog het.
Mkhize is gevra om met die ASM te praat nadat sy vroeër vanjaar tydens die herdenking van die Soweto-onrus 40 jaar gelede ‘n sterk Christelike getuienis hieroor laat hoor het.
Sy het verwys na pres Nelson Mandela se benadering en na die grondwet van die land en telkens die klem op versoening aangetoon.
Die grondwet beskerm byvoorbeeld eiendomsreg, maar ook die sosiaal-maatskaplike regte van armes. Waar verskillende regte met mekaar bots, moet leiers voortgaan met ‘n sin vir versoening, het sy gesê.
Mkhize het gesê baie mense dink Suid-Afrika het agteruit beweeg wat betref versoening. Juis daarom moet Suid-Afrikaners hard werk aan versoening – en daarin het Christene die grootste verantwoordelikheid.
Haar oproep was vir leierskap wat ‘n gevoel van samehorigheid bevorder, soos wat Mandela gedoen het.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM, het gesê Mkhize het baie ingespeel op die gesprek oor die ekonomie en die kerk se verantwoordelikheid oor armoede.
Hy het ook gesê die kerk moet waak teen ongebreidelde kritiek op leiers in die regering. Soms is daar meriete vir kritiek, maar daar is nie meriete in persoonlike aftakeling nie.
Janse van Rensburg het ook gesê ‘n mens moet goeie leierskap raaksien.
“Hier is iemand met ‘n kragtige getuienis. Ons moet hoor wat sy gesê het oor versoening.”
