Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Bietjie gesigverf om ’n inwonertjie van Abraham Kriel Kinderhuis in Langlaagte se dag op te helder. Foto verskaf

Kersfonds-instansies gaan gebuk onder ekonomiese druk

Staatsubsidies word minder, die ekonomie druk en dis die weerloosstes wat daaronder ly.

Dit is die belewenis van instansies wat deur Kerkbode se Kersfonds ondersteun word, soos Sunfield Home in Wellington, waar die meeste inwoners verstandelik gestrem is.

Daisy Groenewald, dienstebestuurder by Sunfield Home, vertel hulle inwoners het voorheen baie kontrakwerk verrig sodat die inwoners ’n be­derf­geldjie op Vrydae kan ontvang. “Maar met die eko­nomie wat maar oral druk, raak hierdie werk ook nou minder – en as daar nie werk inkom nie, kan ons nie die inwoners weeklikse lone betaal nie.”

Daisy doen daarom ’n beroep op instansies vir wie hulle hul dienste kan aanbied, om hulle by daisy@sunfieldhome.co.za te kontak.

“Alle kontrakwerk wat ons verrig, word onder streng toesig van al ons personeel gedoen en ek kan ons dienste met die grootste vrymoedigheid aan­beveel,” sê sy. Daisy hanteer ook ’n werkswinkel om die inwoners konstruktief besig te hou en daarom benodig hulle ook onder andere skryfbehoef­tes, inkleurboeke, verf, kwassies, en gom, sê sy.

Vir nog ’n instansie wat deur Kerkbode se Kersfonds ondersteun word, die Abraham Kriel Kin­der­huis in Langlaagte in Johannesburg, is die staats­befondsing wat jaarliks krimp ’n groot probleem.

Daarom wil hulle mense aanmoedig om deel te raak van die Borg ’n kind-veldtog teen R160 per dag. Kontak gerus vir Dirk Kotze by dk@abrahamkriel.org.

En hoe kan NG gemeentes help? “Gebed. En nog gebed. Ons sal heeltemal verdwaald wees son­der die gebede van ons kerklike ondersteuners. Ge­meentelede kan ook kontak maak indien hulle wil betrokke raak by ’n huis. Hulp met huiswerk, gesels en ondersteuning van die kinders is altyd wel­kom,” sê Dirk Kotze van dié kinderhuis.

Verhale soos dié van Sunfield Home en Abraham Kriel kan ’n mens waarskynlik hoor by al 42 instansies wat jaarliks deur Kerkbode se Kersfonds ondersteun word. Vir al hierdie instansies is direkte betrokkenheid van gelowiges en gemeentes kosbaar.

Kerkbode se Kersfonds is ’n bykomende kanaal waardeur hulle ondersteun kan word. Gemeentes en individue of besighede wat hiertoe ’n bydrae wil lewer, kan dit inbetaal by Kerkbode-Kersfonds, Absa, Rekeningnommer 44306417.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top