Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die ASM bid vir die landbou en die droogte. Foto: Neels Jackson

ASM bid vir boere

Die Algemene Sinodale Moderamen het tydens sy vergadering in Kempton Park stil geword en saam gebid vir die boere, vir die landbou en vir reën.

Dit het gekom na ‘n gesprek oor die stryd wat boere voer om midde in die droogte te oorleef en maniere waarop die kerk hulle kan bystaan.

Die kerk se noodfonds het die afgelope maande meer as R3,2 miljoen bestee op hulp aan boere in verskeie streke.

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM het vertel dat die moderatuur ‘n brief gekry het van ‘n boer wat sê die kerk het hom deur ‘n krisis gehelp – iets wat hy nooit verwag het nie.

Ds Bertus Cilliers van Winburg in die Vrystaat het vertel hoe ‘n gemeente uit die Overberg hulle gehelp het. Die finansiële bydrae het ‘n gat toegestop, maar die gebaar het nog meer beteken, het hy gesê.

Ds Hugo van der Linde van die Hoëveldsinode het gesê boere in hulle streek het gesê die emosionele steun wat hulle van die kerk gekry het, was net so belangrik as die geldelike steun.

Die ASM het gehoor dat die droogte nog glad nie verby is nie. Die Vaaldam tussen Gauteng en die Vrystaat is besig om leeg te loop en groot dele van Namibië is ook nog baie droog.

Daar is gevra dat die gemeentes aanhou bid vir die boere en die landbou en dat Sondag 2 Oktober spesifiek gebruik sal word daarvoor.

Die ASM het ook gehoor dat Namibiese beesboere swaarkry weens maatreëls in Suid-Afrika wat die uitvoer van Namibiese speenkalwers na Suid-Afrika baie bemoeilik. “Ons beesboere se kele word afgesny,” het dr Jan Woest van Namibië gesê.

Die ASM het onderneem om ‘n gesprek met Suid-Afrikaanse rolspelers te voer om ‘n oplossing te probeer vind wat boere in beide lande help.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top