Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Om die “shooter texts” te ontwapen

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die debat oor selfdegeslagverhoudinge word die Bybel gereeld ingespan as die begronding hoekom gays en lesbiërs nie dieselfde regte en voorregte as hulle heteroseksuele broers en susters mag hê nie.

Die benaming “shooter texts” vir die ses tekste wat dikwels in die gesprek oor homoseksualiteit gebruik word (Gen 19, Lev 18:22 en 20:13; Rom 1:26-27; 1 Kor 6:9-10; 1 Tim 1:10) weerspieël reeds iets van die geweld van hierdie benadering wat daartoe bydra om ’n homofobiese wêreld te skep waarin gays en lesbiërs se diepste wese bedreig word.

As ’n vrouepredikant en Ou Testament-dosent, is ek vroeg reeds met die vraag gekonfronteer hoe ’n mens Bybeltekste hanteer wat in die verlede gebruik is om oorlog, slawerny, apartheid en ook seksisme te legitimeer.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/09/Julie-Claasens1.jpg” caption=”Prof Julie Claassens doseer Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Na aan my lyf was daardie befaamde tekste wat sê dat vroue nie mag praat in die kerk of nie gesag oor ’n man mag hê nie (1 Kor 14:34; 1 Tim 2:2). En tog aanvaar meeste mense in die kerk darem nou al ’n vroue­predikant en -professor? Sekere tekste in die Ou Testament vra dus dat ons teen die grein van die teks lees – dikwels in die lig van die Bybel self.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Deuteronomium 23:1-3 waarin gesê word dat ’n ontmande (eunug) nooit mag deel word van God se gemeente nie. Dit word gevolg deur die uitsluiting van ook elke Ammoniet of Moabiet tot in die tiende geslag. Dus vir altyd.

Wette gegiet in graniet wat tog wel ’n paar eeue later uitgedaag is in die verhaal wat vertel van die insluiting van Rut, die Moabiet, in die geslag van Dawid (en die voormoeder van Jesus!) en die ontmandes wat in Jesaja 56:3-5 uitgenooi word om in die tempel te kom aanbid.

By die onderskeie teologiese fakulteite in ons land vind ’n mens ’n ryke verskeidenheid van benaderinge as dit kom by die studie en onderrig van die Ou Testament. Ou Testament-dosente deel egter die oortuiging dat die Bybel nie gebruik, of ons sou ook kon sê misbruik, kan word in die gesprek oor selfdegeslagverhoudinge nie.

So pleit my kollega Louis Jonker vroeër die jaar in Kerkbode (5 Februarie 2016) vir die ontwikkeling van ’n verantwoordelike hermeneutiek wanneer dit kom by die manier waarop die Bybel gebruik word in die debat oor homoseksualiteit. So ’n verantwoordelike hermeneutiek neem die historiese konteks van die tekste in ag, respekteer die unieke genre of literatuur van die onderskeie tekste, en lees ook die tekste saam met ander gelo­wiges op ’n manier wat reg laat geskied aan die jongste sosiaal- en natuurwetenskaplike ont­wikkelings.

Hoe Jonker hierdie hermeneutiek toepas op van die “shooter texts” is duidelik uit een van sy artikels wat die moeite werd is om weer te lees (“Ou-Testamentiese tekste in gesprek oor homoseksualiteit”, Scriptura 93 2006:401-410).

Geborg

Ek en my kollegas by die drie teologiese fakulteite probeer almal op ons eie manier iets van hierdie verantwoordelike hermeneutiek by ons studente kweek wat streef daarna om die Bybel op ’n ander, ’n meer verantwoordelike wyse te lees wat ook sal ag slaan op die vlees-en-bloed-mense wat geraak word deur ’n ondeurdagte, dikwels letterlike lees van die teks.

Vir my as Ou Testament-teoloog met ’n navorsingsfokus op menswaardigheid is dit die kern van die saak. Dat ons moet besef wat ons Bybelinterpretasie aan mense doen.

Die sosioloog, Hans Joas, vertel hoe dit presies die gruweldade van die Tweede Wêreldoorlog was wat by die Duitse gemeenskap die insig gekweek het oor die inherente waarde van mense.

Hierdie oortuiging lei daartoe dat die woorde van menswaardigheid in die aanhef tot die Duitse konstitusie ingesluit word. Ditdat die mens, ongeag van sy of haar ras, geslag, kultuur, fisiese of verstandelike vermoë, en ja, ook seksuele oriëntasie verdien om as mens behandel te word.

Dit blyk dus dat dit juis die verskriklike dade wat aan 6 miljoen Jode, gypsies, gestremdes en homoseksuele gedoen is, wat die gemeenskap laat wakker skrik het om te sê: Nooit weer nie.

So is dit ook die ongelooflike haatmisdaad wat ons ’n paar weke terug in Orlando, Florida, gesien het, wat ons uitdaag om ons vooroordele te ondersoek. Daar het ’n man as gevolg van ’n komplekse mengsel van fak­tore (godsdienstig, kultureel, wroeging oor sy eie sek­suele identiteit dalk?) in ’n gay nagklub wat ver­on­derstel is om ’n veilige plek te wees vir die LGBTIQ-ge­meenskap, ingestap en 49 mense afgemaai asof hulle minder as mens is.

As ’n strewe vir menswaardigheid ons gesprekke kleur, is dit vanselfsprekend dat ons ook ons Bybellees­praktyke sal verander om die ontstellende, netelige tekste wat wel daar is, te verstaan en anders te interpre­teer sodat dit lewe skep en nie lewe wegneem nie.

In die geval van die Orlando-skieter letterlik, maar op soveel meer subtiele maniere deur ons haatspraak, uit­sluitende taal, en afkeurende houdings.

Prof Julie Claassens doseer Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top