Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verantwoordelik lees moet só lyk

n Sleutelvraag onderliggend aan die gay-debat, is die vraag na hermeneutiek: Hoe verstaan ons wat die Bybel vir gelowiges wil sê oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag? Twee bydraers met verskillende standpunte oor sulke verhoudings gee hier hulle perspektiewe oor die lees van die Bybel.

Lees ook Dirk Venter se alternatiewe perspektief: Hieroor moet ons konsensus bereik


In die jarelange gesprek binne die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings word dikwels gesê dat dit alles neerkom op hoe elkeen die Bybel lees. Sommige maak hierdie stelling om daarmee te beklemtoon dat daar binne die kerk ’n sterk verbintenis is om Skrifgefundeerd te wees. Ander maak die stelling uit moedeloosheid deur daarmee aan te dui dat elkeen eintlik maar die Bybel lees soos hy of sy wil!

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/02/Louis-Jonker4.jpg” caption=”Prof Louis Jonker doseer Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch.” align=”right” width=”270px”]

Natuurlik behoort dit tot die wese van die kerk om vanuit die Bybel te wil leef en glo. Daarom is dit so belangrik om te verstaan wat met die woord “lees” in hierdie stelling bedoel word. Dit gaan uiteraard nie bloot oor ’n neutrale verstandelike proses waardeur woorde op papier “ingeneem” word nie. Ons is bewus daarvan dat almal van ons – ja, almal! – die Bybel (en natuurlik ook enigiets anders) deur die bril van ons oortuigings, waardes en ervarings lees. “Lees” het dus veel meer met “die proses van verstaan” te make. Die wetenskaplike vakgebied wat hieroor nadink, die hermeneutiek, probeer beskryf hoe prosesse van verstaan funksioneer – ook die verstaan van die Bybel.

By die mees onlangse Algemene Sinode van die NG Kerk was daar sommige wat gevra het dat die kerk eerder nog verdere studie moet doen oor die kwessie van selfdegeslagverhoudings voordat ’n besluit geneem word. Ander het gereageer deur aan te dui dat nóg inligting nie ’n verskil gaan maak nie. Die moeilike situasie waarin die sinode sigself bevind het, was nie die gevolg van ’n gebrek aan inligting nie, maar eerder weens ’n onversoenbaarheid van verstaansraamwerke. Dit laat die volgende vraag na vore tree: Wat sou ’n verantwoordelike verstaansraamwerk (oftewel, hermeneutiek) wees om met die Bybel in hierdie gesprek om te gaan?

Dit moet myns insiens ten minste aan die volgende vereistes voldoen:

1. Dit is ’n gespreksmatige verstaansraamwerk. Hierdie punt kan vanuit verskillende hoeke gemotiveer word. Eerstens vorm die NG Kerk deel van die Protestants-Gereformeerde tradisie waarin die oortuiging heers dat daar nie ’n sentrale instansie (soos ’n pous, moderator, of selfs Algemene Sinode) is wat namens gelowiges die Bybel moet “reg” interpreteer nie. Verstaan van die Bybel moet dus per implikasie gespreksmatig plaasvind. Verder is dit duidelik dat die Bybel self deur ’n gespreksmatige proses oor eeue heen tot stand gekom het. In die Bybel is daar ’n veelheid van stemme wat in nuwe omstandighede op mekaar reageer. En laastens heers die oortuiging in ons kerklike tradisie dat die waarheid nie slegs binne die kerk en in kerklike mense of prosesse gesetel is nie, maar dat ons deeglik moet kennis neem watter insigte deur die sosiale en natuurwetenskappe ontwikkel, en watter ervarings deur medegelowiges meegedeel word. ’n Gespreksmatige verstaansraamwerk waarbinne die Bybel “gelees” word, bring dus al hierdie gespreksgenote in spel. Deur hierdie gespreksmatige verstaansproses, so glo ek, lei die Heilige Gees die kerk om God se wil vir ons lewe sáám beter te verstaan.

2. ’n Verantwoordelike hermeneutiek maak verder erns met die Bybeltekste in die wydste sin van die woord. Dit is duidelik dat die Bybel nie uit teksies bestaan wat lukraak aangewend kan word in ons argumente nie. Verantwoordelike lesers van die Bybel neem die literêre kontekste en die verskillende literatuursoorte (oftewel, genres) deeglik in ag. Dit is verder bewus van die vele intertekstuele sinspelings en verwysings wat voorkom tussen late­re en vroeëre tekste.

3. ’n Verantwoordelike hermeneutiek is ook sensitief vir die feit dat die Bybeltekste nie in ons tyd ontstaan het en primêr vir ons, vandag, geskryf is nie, maar juis ook die littekens dra van die tydperke (wat strek oor ’n goeie duisend jaar en meer!) waarin dit tot stand gekom het. Ons behoort nie bloot te vra “Wat staan daar?” nie, maar ook “Waarom is dit geskryf? Wat het dit vir die destydse gelowiges gesê? Hoe moet dit in die sosio-historiese kontekste van die Bybelse tyd verstaan word?”

4. Laastens is ’n verantwoordelike hermeneutiek ook bewus daarvan dat die Bybeltekste nie geskryf is om mense te vermaak, of om bloot antieke geskiedenis oor te dra nie. Dit wou eerder, vanuit die perspektief van die antieke gelowiges, nadink oor God en God se betrokkenheid by hul werklikheid. Die Bybel is dus ’n teologiese boek – dit handel oor God wat Godself aan die mensdom bekend maak.

Hoe sou ’n onverantwoordelike hermeneutiek lyk? Dis ’n verstaansraamwerk wat onbewus is van die eie ideologiese posisie of vooroordele; wat tekste eklekties gebruik om ’n eie standpunt te regverdig; wat tekste selektief toepas deur sommige dinge letterlik te verstaan waar dit pas, maar ander tekste nie so op te neem nie; en wat meen dat die eie verstaan van die Bybel noodwendig die enigste regte een is.

Die wonderlikste aspek van die positiewe besluit wat die Algemene Sinode in 2015 oor selfdegeslagverhoudings geneem het, is nie dat dit vir eens en vir altyd “van bo” af ’n standpunt wou afdwing nie, maar juis dat dit blyke gegee het van ’n gespreksmatige hermeneutiek. Dit het helder bely dat die Sinode tot ’n bepaalde oortuiging met betrekking tot selfdegeslagverhoudings gekom het. Maar, dit laat die ruimte oop dat ander dalk daarvan mag verskil, en dat ons sáám – met ons verskillende verstaans­raamwerke – gespreksmatig en verantwoordelik op pad moet gaan met die Bybel.

Het hierdie verantwoordelike hermeneutiek dalk met die verdere verloop van appèlle en moratoriums weer in die slag gebly?


Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde aan kerkbode@tydskrifte.co.za te skryf. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top