Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Stellenbosch-Wes ontmoet hulle bure

Twee predikante se behoefte om hul belydenis­klas aan ander kerke bloot te stel, het tot ’n baie unie­ke Ontmoet jou buurkerk-projek in hulle gemeente gelei.

Só vertel dr Almatine Leene, predikant van die NG gemeente Stellenbosch-Wes, oor haar en haar kollega, dr Daniël de Wet, se besluit dat blote teorie oor ander kerke te eensydig is.

Die afgelope jaar het hulle ’n diens van Shofar, die VGK Vlottenburg en St Nicholas, die Katolie­ke gemeente in Stellenbosch, gaan bywoon. Almatine sê sowat 20 tot 40 lidmate het deelgeneem aan die projek en dié kerke besoek.

“Op Stellenbosch is daar meer as 70 verskillende kerke en ons bely dat Jesus ons Here is. Maar hoe kan ons sy liggaam wees as ons mekaar nie ken nie?” Sy verduidelik daar is maar altyd vooroordele teenoor an­der kerke se manier van doen en daarom skep hierdie besoeke belangrike geprekstof vir die eenheid as Christene.

Al drie besoeke was besonders omdat dit so uniek was, sê Almatine.

ontmoet-jou-bure
Vader Wim Lindeque van die Katolieke Kerk verduidelik voor die erediens ‘n paar verskille tussen sy kerk en die NG Kerk aan Stellenbosch-Wes se lidmate. Foto: Almatine Leene

Hul eerste besoek was aan Shofar en, volgens Almatine, was die ouer mense bo 70 van Stellenbosch-Wes taamlik opvallende besoekers. “Hulle het die musiek te hard gevind maar dit was vir hulle goed om daar te wees. Vir meeste van die tieners was die diens oor die algemeen iets wat hulle geken het en hulle geniet het. Vir ander tieners was daar ’n paar vreemde gebruike soos die praat in tale.”

Hulle besoek aan die VGK-gemeente was ’n totaal ander ervaring. “Dit was ’n groot kontras met die vorige besoek aan Shofar waar jy die nuutste tegnologie kon sien en hier was daar nie eens ’n projektor nie. Maar die hartlikheid, vriendelikheid en die entoesias­tiese singery het uitgestaan. Hulle het dit baie spesiaal gevind dat ons daar was en dit het baie moontlikhede vir ons samewerking in die toekoms oopgesluit,” sê Almatine.

Die Katolieke kerk was ook ’n wonderlike ervaring, veral as gevolg van die baie studente uit verskillende lande in dié klein kerkie. “Dit was mooi om die diversiteit te sien en om welkom geheet te word. Van die tieners het dit vreemd gevind om baie dele van die li­tur­gie hardop saam te sê. Die preek het hulle ook ho­peloos te kort gevind! Ons het acapella gesing en van ons besoekers het instrumente gemis. Maar die heiligheid en respek wat in die diens aanwesig is, die simbole, was alles baie mooi.

“Ons het almal baie geleer en net weer besef hoe divers die liggaam van Christus is.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top