Die voorspoedsteologie is een van die groot probleme wat gereformeerde kerke in Suider-Afrika ervaar.
Dít, sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, is een van die dinge wat na vore gekom het by ’n onlangse byeenkoms van die Reformed Family Forum in Malawi.
Die forum is ’n vergadering van algemene sekretarisse en ander verteenwoordigers van kerke wat tot dusver hoofsaaklik tot die NG Kerkfamilie behoort. Dit is verlede jaar vir die eerste keer gehou. Vanjaar het kerke uit Suid-Afrika, Mosambiek, Botswana, Zimbabwe, Zambië en Kenia verteenwoordigers gestuur.
Claassen het gesê by dié geleentheid het die verteenwoordigers van verskillende kerke bloot met mekaar gedeel wat in hulle omgewings gebeur en wat die uitdagings is waarmee hulle te doen kry.
Kerke wat voorspoedsteologie preek, trek baie van die gereformeerde kerke se lidmate, is daar vertel. Dié voorspoedskerke floreer onder die armes en buit hulle uit. Daar is selfs stories vertel van kerke wat stoele vir hulle dienste verkoop.
Dikwels word die mense teleurgestel en dan is dit die Christelike godsdiens wat in die proses skade ly, sê Claassen.
Die forum het nou besluit dat daar ’n studie gedoen moet word wat die kerke moet help om ’n goeie antwoord op die voorspoedsteologie te formuleer.
’n Tweede tema wat na vore gekom het uit die gesprekke, is die ongelooflike armoede, sê Claassen. Hulle het byvoorbeeld gesien hoe kinders wat vir ’n jeugkamp opgedaag het, buite onder die bome moes slaap. Daar is ook vertel van dominees wat ’n honderd kilometer per fiets moet aflê om by van die preekpunte in hulle gemeentes te kom.
Daar word nou vennootskappe gesluit om te kyk hoe sulke kerke gehelp kan word – nie bloot deur geld te gee nie, maar ook om te help kyk hoe hulle kan klaarkom met wat hulle het.
Daar word ook gehelp met teologiese opleiding, en hierin speel die NG Kerk deur die NetAct-netwerk ’n rol.
Ander temas wat ter sprake gekom het in die gesprek, is die verhouding tussen kerk en staat, die ekonomie en ekologie, profetiese getuienis en publieke teologie, seksuele identiteite, Islam en ander godsdienste en hoe gelowiges wat van mekaar verskil, met mekaar praat.
