As die NG Kerk nie teen Woensdag, 14 September, aansoek doen om geregistreer te word as ʼn kerk wat burgerlike verbintenisse bevestig nie, kan hy ʼn hofstryd van ʼn groep lidmate te wagte wees.
Dit is die jongste verwikkeling in die kerk se hantering van die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag.
In dié besluit het die Algemene Sinode burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag erken en gesê dat predikante wat wil, toegelaat word om sulke verbintenisse te bekragtig.
Dié besluite is kort na die sinode op ys geplaas nadat daar daarteen geappelleer is. ʼn Groep van elf lidmate het egter gedreig om hof toe te gaan as die opskorting nie herroep word nie. Hulle het gesteun op regsadvies waarvolgens die appèlproses ongeldig is.
In reaksie hierop het die Algemene Sinodale moderamen die opskorting herroep. Dit beteken die besluite van die Algemene Sinode is weer van krag.
Om dit tot uitvoer te bring, moet die kerk nou aansoek doen by die Departement van Binnelandse Sake om geregistreer te word in terme van die Wet op Burgerlike Verbintenisse. Daarna moet predikante aansoek doen om toegelaat te word as bevestigers van burgerlike verbintenisse, net soos predikante ook moet aansoek doen om huweliksbevestigers te word en ʼn eksamen daarvoor moet aflê.
Op die vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen was die algemene indruk dat dit ʼn lang en omslagtige proses sou wees wat in elk geval nie afgehandel sou kon word voor die buitengewone Algemene Sinode in November sit nie.
Intussen het dit egter geblyk dat dit glad nie so ʼn omslagtige proses hoef te wees nie en dat die minister van Binnelandse Sake bereid is om die proses te bespoedig.
Die groep van elf se regsverteenwoordigers het nou weer ʼn brief aan die kerk gestuur waardeur hulle die kerk wil verplig om sy eie besluit uit te voer deur die aansoek by Binnelandse Sake in te dien.
Die brief sê daar was ʼn reëling dat die kerk Vrydag 9 September al sy aansoek by die departement kon indien, maar dat die moderatuur besluit het om dit nie te doen nie.
“It is clear that the motive of the moderamen is to delay the application until the special General Synod meeting to take place in November 2016 where it intends to overturn the synod decision,” lui die brief.
Die vertraging in die uitvoering van die besluit is volgens die brief ʼn verbreking van die sinodebesluit en die kerkorde van die NG Kerk. Dit is ʼn skending van die elf se regte, dit is ʼn skending van hul grondwetlike reg op menswaardigheid, gelykheid en vryheid en dit is in kwade trou.
Daarom word gevra dat die kerk teen Dinsdagmiddag, 13 September sal bevestig dat hulle teen Woensdag 14 September die aansoek by Binnelandse sake sal indien.
As die kerk dit nie doen nie, behou die elf hulle die reg voor om die hooggeregshof op ʼn dringende basis te nader om die kerk te verplig om die sinode se besluite uit te voer en om die aansoek sonder vertraging in te dien. Daar sal ook gevra word dat die kerk die koste van die bevel sal dra.
Prop Laurie Gaum, een van die elf, het by navraag gesê hulle is nie besig om te bluf nie. Hulle kan bekostig om die saak deur te voer en sal dit doen as die kerk nie gehoor wil gee aan hulle vesoek nie.
Dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris, kon teen Dinsdagmiddag nog nie sê hoe die kerk gaan reageer nie. Hy het egter ontken dat die kerk met vertragingstaktiek besig is omdat die saak eers by die volgende geskeduleerde moderatuursvergadering op 7 November op die tafel kan wees.
Claassen sê die ASM wil die saak op ʼn kerklike wyse bestuur en dat daar nie ʼn taktiek is om die saak na ʼn spesifieke uitkoms toe te bestuur nie.
