Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Malcolm James (links) en ds Danie le Roux (regs) steek die kerse aan. Foto: Ashley Dryden

Worcester steek tekens van HOOP aan

Eenheid, versoening en geregtigheid het onlangs op besondere wyse tydens ’n erediens in Worcester gestalte gekry. JACOBIE M HELENA vertel.


Dit was ’n baie emosionele oomblik. Dit is dalk een klein tree na kerkeenheid, maar ’n reuse-tree vorentoe vir Worcester.” Só sê ds John Willemse, predikant van die Verenigende Gereformeerde gemeente Worcester-Oos en voor­sitter van die VGK se ring van Worcester.

Willemse verwys na die openingsdiens van die NG Kerk se ring van Worcester se amptelike ringsitting wat op Sondag 4 September by die VG Kerk Worcester-Oos, gehou is.

Hoekom sal ’n NG ringsitting se openingsdiens by ’n VGK-gemeente plaasvind? Dié inisiatief is uit ’n reeks eerlike en opregte vriendskapsgesprekke tussen die NG en VG Kerk predikante gebore, sê ds Nioma Venter, predikant van die NG Kerk se Moedergemeen­te in Worcester en die voorsitter van die NG Kerk se ringskommissie.

Einde 2015 het sommige inwoners van gegoede buur­te in Worcester ’n green card sisteem ingestel. Dit het behels dat algemene werkers, onder andere huis­hulpe en tuinwerkers, identifikasiedokumente werk toe moes saamdra.

Die green card sisteem se doel was om sogenaamde ongewenste karakters uit die buurte te hou. Volgens Venter het die NG Kerk en die VG Kerk se ringe hieroor in gesprek getree. Hulle het opnuut van die verdeeldheid, rassisme en klassisme in Worcester bewus geword en besluit om nie net geregtigheid en versoe­ning te preek nie, maar ook te leef.

Ná ’n jaar se weeklikse gesprekke tussen die twee kerke se predikante, het die VG ring die NG ring genooi om hulle ringsitting se ope­nings­­diens by die VGK Worcester-Oos te hou.

Die doel van dié gesamentlike ere­diens was om vir NG en VG pre­di­kante en lidmate van Worcester die geleentheid te skep om saam te aanbid en na afloop van die diens te kuier. Die tema van die erediens was eenheid, geregtigheid en ver­soe­ning.

Die prediking tydens dié eenheidsdiens is deur die moderatore van die VGK se Kaaplandse sinode, ds Pieter Grove, en die NG Kerk se Wes-Kaapse sinode, ds Nelis Janse van Rensburg, behartig.

Hulle boodskap uit Johannes 17 was kragtig.

“Ons behoort aan Christus en dis Christus wat eenheid in die kerk bring. Ons kan nie eenheid nastreef sonder dat God Drie-enig die middelpunt daarvan is nie. Ons kerkfamilie het so lank uit die dwalinge van verdeeldheid geleef waar Christus-gesentreerde eenheid geen plek gehad het nie. Eenheid is ’n opdrag van Christus en gaan nie oor watter taal jy praat of van waar jy kom nie, maar om die voorbeeld van Christus na te streef,” het Grove gesê.

Janse van Rensburg het uitgebrei: “As ons in 1857 vir Johannes 17 reg verstaan het, het apartheid nie plaas­gevind nie. Ons is almal God se mense en in en deur Christus is ons een, maar tans is ons ’n kragtige getuienis van verdeeldheid. Die kerk sal verenig as ons die kragveld van die Gees deurdring en die Gees toelaat om ons gemeenskappe een te maak. Ek weet daar is koorgesange in die hemel oor wat vanaand hiér gebeur. Dié ere­diens is ’n voorbeeld van hoe die eenheid van Christus geleef en beliggaam word.”

Tydens die erediens is daar ook drie kerse aange­steek, een vir eenheid, ’n tweede vir versoening en ’n derde vir geregtigheid.

Ds Malcolm James van die VGK Worcester-Suid sê met die aansteek van elke kers kon die roeping op éénwees konkreet en sigbaar gestalte kry. Die kerssere­monie het bevestig dat daar erns met ware eenheid, opregte versoening en herstellende geregtigheid gemaak moet word.

Willemse meen na so ’n inspirerende diens is dit nóú die tyd om skouer aan die wiel met betrekking tot kerk­eenheid te sit.

Venter beaam dit: “Ek dink die uitdaging is tans om vanuit die momentum van Sondagaand die verhou­dinge op grondvlak tussen die VG en NG lidmate te versterk. Dit is definitief ’n goeie begin dat die NG Kerk en VG Kerk predikante weekliks saam koffie drink, maar dit is nie genoeg nie. Ons wil graag ge­leent­hede skep, soos die koinoniamaaltye, waar daar eerlike uitruiling van stories tussen die onderskeie kerke se lidmate plaasvind.

Ds Fanie Engelbrecht, wat tans met versoenings­werk in Worcester besig is, vertel dat dié erediens bewys het hóé nodig die NG Kerk en die VG Kerk mekaar in ’n uitdagende Suid-Afrika het. “Ons God is ’n God van opregte verhoudinge. Dis nie ’n keuse nie, maar ’n opdrag,” sê hy.

Ds Danie le Roux, predikant van die NG gemeente Brandwag in Worcester, vertel van ’n hartseer gevoel ty­dens die erediens omdat hy nie meer dikwels saam met sy bruin broers en susters in dieselfde kerk kan aanbid nie. Hy voel dat die kerk baie agter is teenoor die res van die samelewing met betrekking tot eenheid.

Die VG Kerk en NG Kerk se ringe hoop om in die toekoms gesamentlike ringsittings te hou. Die twee ringe sal na afloop van beide se ringsittings oor die pad vorentoe gesels.

Venter droom dat die VGK en NGK mekaar in die volgende jaar op ’n dieper vlak sal leer ken en dat die voorbeeld van eenheid, geregtigheid en versoening van Christus, wat tydens dié erediens sigbaar was, aangesteek sal bly en ’n helder lig van hoop in Worcester sal skyn.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top