Dr André Bartlett, ondervoorsitter van die sinodale dienskommissie van Sinode Hoëveld, het uit die Algemene Sinodale Moderamen bedank. Sy volledige verklaring oor sy bedanking en die redes daarvoor lui soos volg:
Na ernstige besinning het ek die moeilike besluit geneem om te bedank as lid van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) van die NG Kerk.
Dit was vir my ‘n groot voorreg om in die ASM te kon dien en ek het my bes gedoen om hierdie geleentheid wat my gebied is, op ‘n waardige wyse te benut.
Ek kon tot nou toe my weg oopsien om in die ASM te dien, omdat ek geglo het dat my stem saam met dié van ander ‘n bydrae kan lewer en selfs ‘n verskil kan maak.
Ek sien egter nie langer my weg oop om met integriteit in die ASM te dien, terwyl die 2015-besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings deur die kerkleiding verontagsaam word nie.
Ek is nie meer gemaklik om deel te wees van ‘n struktuur waar dit vir my voel asof die belange van weerbare en kwesbare lidmate van die kerk ondergeskik gestel word aan die druk van beswaarde lidmate wat nie kans sien om hulle medegelowiges as volwaardige medelidmate te aanvaar nie.
Die 2015-besluite van die Algemene Sinode het juis ruimte geskep: enersyds vir gay/lesbiese lidmate om hulle Godgegewe mens-wees ten volle uit te leef, en andersyds ook vir lidmate/kerkrade wat ander sieninge oor die saak het, om hulle beskouinge te handhaaf.
Die nie-uitvoering van hierdie besluite het die effek dat gay/lesbiese lidmate verhinder word om hierdie ruimte wat geskep is, met vrymoedigheid te betree en dat hulle steeds in die Kerk waarvan hulle lidmate is, gemarginaliseer word omdat die erkenning van hulle menswaardigheid vir sommige ander lidmate aanstoot gee.
Ek het groot begrip vir die kompleksiteit van die situasie in die NG Kerk en ander kerke oor hierdie aangeleentheid, en verstaan ook die geweldige druk waaronder kerklike leiers hieroor verkeer. Ek meen egter dat die geskiedenis ons gaan oordeel, nie net oor die vraag of ons die “swakheid van sommiges” in ag geneem het nie, maar of ons getrou was aan ons oortuigings.
André Bartlett
Onder-voorsitter, Sinodale Dienskommissie, Sinode Hoëveld
