Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Marius Cornelissen, brigadier Stephanie Adendorff,  kaptein (SA Vloot) Charles Ross, dr Dewyk Ungerer en veteraan Renier Feldtmann wat die vredesdiens bygewoon het.

Raslouw herdenk dag van vrede

“In tye van vrede begrawe seuns hul vaders, maar in tye van oorlog begrawe vaders hul seuns.”

Met dié antieke Griekse aanhaling begin ds Marius Cornelissen, gewese kapelaan-generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, op Sondag, 19 September, sy preek in die NG kerk Raslouw.

En al verwys die aanhaling na oorlog, gaan die preek oor vrede, want die diens was ‘n herdenking van die Internasionale Dag van Vrede wat in 2001 deur die Verenigde Nasies ingestel is. Die dag val eintlik op 21 September, maar die naaste Sondag is gekies om ‘n kerkdiens te hou.

In Suid-Afrika is dié dag sover bekend die eerste keer in 2014 gevier met Stap vir Vrede wat in Johannesburg deur ‘n radiostasie gereël is.

In 2015 besluit die Pretoria-tak van die Suid Afrikaanse Legioen van Militêre Veterane om die dag met ‘n tweetalige erediens te herdenk. In samewerking met Cornelissen en Raslouw is die diens op 20 September by dié gemeente gehou.  Daarna is besluit om dit vanjaar weer te doen.

Talle Suid Afrikaners het oor die afgelope 100 jaar hulle lewens opgeoffer het om vrede in hul eie land, Afrika en Europa te bewerkstellig. Deel daarvan is die Slag van Delvillebos gedurende Julie 1916 waar bykans 3 100 Suid Afrikaners dood of gewond is.

Sedert 1948 was die VN ook reeds in 71 operasies betrokke waarin 3 050 mense hulle lewens verloor het.  22 van hierdie operasies was of is in Afrika.  Tans is die VN en die Afrika-Unie betrokke by 24 vredesteun-operasies in die wêreld waarby ongeveer 120 000 soldate, polisie en ander lede van 121 lande betrokke is.

Cornelissen het aan die hand van Psalm 16 en Psalm 116 gesê dat vrede in ‘n verhouding met God begin, dat dit daarvandaan moet oorspoel na alle mense. Soos Dawid teenoor God moet ons dankbaar wees vir redding, verlossing en bewaring.

Volgens  tradisie is daar erkenning aan ontslapenes gegee met die speel op trompet en doedelsak van die laaste taptoe, 2 minute se lament en die oggendsinjaal.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top