Die poppe het behóórlik van 5 tot 8 September by die NG Kerk Worcester-Vallei gedans. Die Agapé Puppets het nie één van die 500 kinders laat stilsit nie.
Die Agapé-poppe is nie vir Worcester ’n nuutjie nie. Rina Blomerus, wat al vir agt jaar agter die stuur van Worcester se Agapé-poppe is, vertel hoe geseënd die afgelope jeugweek by Worcester-Vallei was.
Hoewel al die groeplede vanuit die NG en VG gemeentes in Worcester kom, is die bediening nié ’n geskenk wat aan ’n spesifieke kerk gegee word nie, maar aan die gemeenskap, sê Rina.
Die oorspronklike konsep van die Agapé Puppets is deur die Amerikaner Linda Summers ontwikkel. “Na ’n besoek van Linda in 2008 het God vir my en Linda onderskeidelik gesê Hy roep my om ’n Agapé Puppets-bedieningsgroep in Worcester te begin,” sê Rina.
Hoewel dit ’n Amerikaanse konsep is, is daar al op vyf kontinente suksesvolle groepe gevestig. “Daar is al Agapé-poppegroepe in onder andere Brasilië, Meksiko, Ierland, Frankryk, Peru en Sirië. Ons het selfs ’n groep (The Bright Stars) in Morgenster, Zimbabwe gestig en ook mense in Mosambiek opgelei. Ons fokuspunt is egter om op ’n weeklikse basis die plaaslike gemeenskap rondom Worcester te bedien. Ons probeer spesifiek om die liefde van Jesus aan kinders in geweld-geteisterde gemeenskappe te verkondig,” vertel Rina.
Die struktuur en formaat van die byeenkomste is volgens die Amerikaanse formaat georganiseer. In elke vertoning word daar stories vertel, saam gesing, na getuienisse geluister én die poppe word natuurlik aan die woord gestel.
Die sentrale boodskap van die Agapé-poppebediening is die liefde van Jesus. Dít is die boodskap waarmee die kinders moet huis toe gaan. Ons trek dit ook altyd terug na die kruis toe, vertel Rina.
Nisben Siyekaya (30) van Zimbabwe is een van die bedieningslede, oftewel “poppe”. Hy sê: “The Agapé Puppets are wonderful and educative for everyone, not just for the kids. I’m in this group to teach children how God came to us through his Son and also to teach children how to trust God in everything we do.”
Ds Stefaans Burden sê dis die derde jaar wat die poppe by Valleikerk se jeugweek kom bedien. “Ons het hulle weer gevra want ons weet die kinders geniet dit baie. Die Agapé Puppets is baie effektief. Die groep kry dit reg om baie kreatief deur verhale, sang en ’n poppekas vol poppe moeilike begrippe vir die kinders verstaanbaar te maak,” sê Stefaans.
“Hoewel die Agapé Puppets nie as ’n reël met temas werk nie, gee temas vir bedieningsgeleenthede soos die jeugweek ’n samehangende vorm. Verlede jaar was die tema ‘jou identiteit in Jesus’ en hierdie jaar het ons die wapenrusting van die Gees stelselmatig aangetrek,” sê Rina.
Die kleinspan het die poppe se kuier in Valleikerk terdeë geniet. Mila Louwrens (5) sê: “Die jeugweek was so lekker en ek hoop dat die poppe lekker gaan slaap en dat almal soldate vir Jesus sal wees.”
Christiaan Genade (9) is opgewonde oor die lekker stories wat vertel is en gee die week ’n 99%. Dit was nét die kinders wat tannie Rina heeltyd moes stilmaak wat vir die 1% minder gesorg het.
Die week was vir die agtjarige Jannie Vlok ook baie lekker: “Ons het hierdie week oor die wapenrusting gehoor. My gunsteling-poppe is die Groen mannetjiepop en Oupa Sukkelbeen. Die poppe het ons geleer dat ons altyd vir Jesus moet luister. Jesus is altyd by jou en jy moet altyd in Hom glo. Jesus beskerm ons en Jesus is baié lief vir ons.”
