Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die Samuel-gebou waar die “don­kies” vroeër opgelei is. Dit gaan deel wees van die Andrew Mur­ray Sentrum vir Spiritualiteit in Wel­ling­ton. Foto: Neels Jackson

Andrew Murray Sentrum gaan spiritualiteit ontwikkel

Die NG Kerk in die Wes-Kaap gaan ’n sentrum op die been bring wat gaan help om ’n missionale spiritualiteit te ontwikkel.

Die Andrew Murray Sentrum gaan gevestig word in ’n groep historiese geboue op Wellington. Dit sluit in Murray se pastorie genaamd Clairvaux, die Samuelgebou wat vroeër die sendinginstituut gehuisves het waar evangeliste (later bekend as die donkies) opgelei is, en die Murray-jubileumsaal.

Murray is al bestempel as ’n “praktiese mistikus” in wie se lewe gebed, roeping en diens al drie belangrik was. Dit is hierdie soort spiritualiteit wat die sentrum wil bevorder.

Dit wil die ortodoksie se eensydige klem op kennis, die ortopraksie se eensydige klem op dade en die pië­tisme se eensydige klem op emosie vermy en ’n spiri­tualiteit help vorm waarin al drie dié aspekte in ’n ge­loofslewe geïntegreer word.

Die sentrum sal ’n ruimte wees waar geloofsgewoon­tes aangeleer en ingeoefen kan word. Dit sluit ge­woon­tes in soos gebed, afsondering en stilte, lectio di­vina as luisterende omgang met die Skrif, vas, ge­loofs­on­der­skei­ding, deelname aan die geloofsgemeenskap, diens­baar­heid en rus.

Daar sal retraites aan­gebied kan word en daar word beplan om 35 enkelkamers en drie dubbelkamers, almal met en suite-badkamers, in die Sa­muel-gebou in te rig waar men­se sou kon oorbly.

Die Jubileumsaal en die sit- en eetkamer van die Samuelgebou sal ook benut kan word vir ’n verskeidenheid van kursusse en vergaderings.

Daarby word beplan om Clairvaux in te rig as ’n navorsingsentrum oor missionale spiritualiteit, onder meer met ’n Andrew Murray-museum en biblioteek.

Gemeentes en ringe sou die sentrum kon gebruik vir retraites, maar dit sal ook gebruik word vir die ge­loofsvorming van studente van Stellenbosch sowel as die Hugenote-kollege op Wellington.

Die sentrum sal ook help voorsien aan die groeien­de behoefte aan geloofsontwikkeling van predikante en individuele lidmate. Ander sentra wat aan hierdie behoefte voldoen, is soms tot ’n jaar vooruit vol bespreek.

Omdat geloofsonderskeidende besluitneming al belangriker word in die Wes-Kaapse kerk, is daar ook ’n al groter behoefte aan ’n plek waar taakspanne kan vergader maar waar daar ook ruimte is om stil te word en geloofsonderskeidend na te dink.

Die sentrum met sy mooi ligging en groot tuine sal ideaal daarvoor geskik wees.

Die Wes-Kaapse moderamen het die planne vir die sentrum einde Augustus goedgekeur. Die gedagte is dat die sentrum moontlik in 2017 in fases sal begin funksioneer, maar dat dit teen begin 2018 in volle gebruik sal wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top