Vreugdevol Vry!
Dit is die tema van ʼn veertigdae-reeks wat aansluit by die Reformasiefees en wat op versoek van die Algemene Sinodale kantoor onder leiding van die NG gemeente Witrivier voorberei word om in die derde kwartaal van volgende jaar deur gemeentes gebruik te word.
Witrivier het die afgelope vyf jaar ʼn groeiende tradisie van veertigdagreekse gevestig. Ds Gerrie Doyer, emeritusleraar van Witrivier, vertel dat dit begin het met Rick Warren se veertig dae van doelgerigte lewe. Daarna het hulle telkens saam met ander gemeentes nuwe materiaal geskep. In 2016 het meer as 80 gemeentes van veral die NG Kerk, maar ook uit ander denominasies saamgewerk. Met die oog op die 500-jarige herdenking in 2017 van Luther se 95 stellinge, is daar nou ʼn reeks ontwerp rondom die Solas, die slagspreuke met die Latynse woord “sola” (“slegs”, of “alleen”) daarin.
So is daar preekriglyne vir ses Sondae met die temas “Genade alleen” (sola gratia), “geloof alleen” (sola fide), “Christus alleen” (solus Christus), “die Skrif alleen” (sola Scriptura), “aan God alleen die eer” (soli Deo gloria) en God se sending (Missio Dei).
Saam met die preekriglyne sal daar ook riglyne wees vir gesprekke in kleingroepe, dagstukkies vir individuele stiltetyd en huisgodsdiensmateriaal, sowel as stof wat gerig is op laerskoolkinders, tieners en kleuters.
Doyer sê alle Protestantse kerke sal tuis voel met die materiaal. Die tema, “Vreugdevol Vry”, sluit aan by die vryspraak uit die geloof alleen.
Die materiaal sal aanstaande jaar via die Algemene Sinode se kantoor beskikbaar gestel word, sê Doyer.
