Die groep van elf lidmate wat die NG Kerk vroeër met regstappe gedreig het, laat nou ‘n volledige ondersoek doen na die regsgeldigheid van “die stappe wat nou geloods is teen die 2015-besluit oor selfdegeslagverbintenisse”.
Die groep sê in ‘n verklaring ingevolge die Kerkorde is ‘n beslissing van die Algemene Sinode bindend. ‘n Onafhanklike regspan, insluitend ‘n senior advokaat, ondersoek nou die saak.
Die stappe wat hulle ondersoek, sluit volgens dr Frits Gaum, een van die elf, die hantering van appèlle, die omskakeling van appèlle na beswaarskrifte, die geleentheid vir die indiening van verdere beswaarskrifte en die byeenroep van ‘n algemene sinode in.
Die regspan moet kyk of dit alles regsgeldig voor die buitengewone algemene sinode kan dien en of dit houdbaar is. Dié regsmening sal voor die buitengewone sinode aan die kerk en die media beskikbaar gestel word.
Die groep sê hulle glo dat die aanvalle op die 2015-besluit van die Algemene Sinode ’n gewetenskrisis vir die kerk daarstel. Daar is reeds jare lank met hierdie pynlike geskil onder lidmate en kerkleiers geworstel.
“Die trauma van ’n voortgesette konflik is verreikend en vernietigend. Ons glo dat die 2015-besluit, wat niemand onder verpligting plaas nie, gehandhaaf moet word, en dat die kerk moet voortbeweeg sonder dat dit onafwendbaar word om die howe te nader.”
Die elf is prop Laurie Gaum, prop Judith Kotze, ds Pieter Oberholzer, prop Hennie Pienaar, me Lulani Vermeulen, prof Hendrik Bosman, dr Murray Coetzee, dr Frits Gaum,
dr Chris Jones, dr Nadia Marais en adv Leon Wessels.
