Die Anglikaanse Kerk in Suider-Afrika het nee gesê vir ’n voorstel dat gay-mense se burgerlike verbintenisse kerklik geseën kan word.
Die kerk, wat Anglikane in Suid-Afrika, Namibië, Lesotho, Swaziland, Mosambiek, Angola en op die eiland St Helena bedien, het op sy sinode in drie afsonderlike stemmings telkens teen die voorstel besluit. Die biskoppe het met 16-6 daarteen gestem, die priesters met 42-34 en die lidmaatafgevaardigdes met 41-25.
Om goedgekeur te word, moes al drie die stemmings ’n gewone meerderheid ten gunste van die voorstel behaal het, en dan moes daar in ’n gesamentlike stemming ’n meerderheid van twee derdes behaal word.
Nog ’n voorstel dat priesters in vaste gay-verbintenisse toegelaat word om in die kerk te dien, is teruggetrek voordat die debat begin het.
Aartsbiskop Thabo Makgoba, leier van die kerk, het in ’n verklaring gesê almal in die kerk moet die uitslag van die stemming aanvaar. Hy het ook gesê die saak is nie daarmee afgehandel nie. Dit kan weer op volgende sinodes ter tafel gebring word.
Aan gay en lesbiese lidmate het hy gesê die besluit is vir hom baie pynlik. Hy is bly hy dra ’n bril, anders sou die sinode sy trane sien. Hy het gesê daar was pyn aan albei kante van die debat, maar het gay-lidmate gevra om by die kerk te bly en hulle volle rol te speel wanneer die saak in die toekoms bespreek word.
