Water en vrugte is in Port Elizabeth instrumente wat help dat studente, wat aan verskillende kante van die huidige spanning op die universiteitskampus staan, begin om mekaar raak te sien en na mekaar te luister.
Ds Rethie van Niekerk van die NG gemeente Somerstrand vertel dat hulle heelwat met hulle studente praat oor hoe hulle as gelowiges die spanning op die kampus moet hanteer.
Verlede Maandag (26 September) toe die #feesmustfall-studente betoog het, het van Somerstrand se studente vir hulle water en vrugte geneem.
Van Niekerk sê Somerstrand se studente is kwaad oor die ontwrigting, maar vir hulle is dit ’n manier om die evangelie uit te leef. Dit gaan oor Jesus se woorde in Matteus 5 dat jy jou vyand moet liefhê. Dit bemagtig hulle ook om te begin luister na wat die #feesmustfall-studente sê.
Vir die #feesmustfall-studente is die boodskap met die vrugte en die water: Ons sien julle raak, ons gee om vir julle.
Saterdag (1 Oktober) was daar ’n massavergadering wat deur die studenteraad gereël is en waar kerkleiers die leiding geneem het. Na die eerste besware van die #feesmustfall-studente is die vergadering verdaag en die wit studente het geloop.
Van Niekerk vertel dat ’n swart fotograaf by hulle aangedring het dat hulle moet bly, wat hulle toe gedoen het. Daarna is ’n tweede vergadering gehou waarin die studente na mekaar geluister het. Selfs die #feesmustfall-studente het later gesê hulle voel vir die eerste keer dat hulle gehoor is.
Van Niekerk sê dis ’n baie komplekse situasie. Dis nie eenvoudig twee groepe, die wat wil studeer en dié wat wil ontwrig nie. Dié studente wat die kampus wil sluit is ’n klein groepie, maar daar is baie meer wat simpatie het met die saak waarvoor #feesmustfall staan.
Intussen het die kerke ook op Tukkies se kampus in Pretoria betrokke geraak nadat die rektor, prof Cheryl de la Rey, ’n dringende ontmoeting met kerkleiers aangevra het. Sy het die geloofsgemeenskappe gevra om op enige wyse behulpsaam te wees met die situasie op die kampusse.
Dr Dewyk Ungerer, moderator van die Noordelike Sinode, het die vergadering bygewoon en daarna in ’n brief aan die sinode se gemeentes gevra dat hulle op twee Sondae, 2 en 9 Oktober, spesifiek vir die situasie op die kampusse sal voorbidding doen.
Hy het ook gevra dat lidmate studente ondersteun met die oog op die naderende eksamens.
Ungerer sê die rektor het gevra vir enige voorstelle. Lidmate wat sulke voorstelle wil doen, kan dit aan hom stuur en hy sal dit by die rektor besorg.
Die kerkleiers wat byeen was, het ook besluit om op Maandag, 10 Oktober, as die kampus weer open, ’n gebedsgeleentheid op die kampus te hou om voorbidding te doen vir die Universiteit.
