Die samewerkende eenheid wat die NG Kerk en die Hervormde Kerk saam beleef, het alle potensiaal om tot groter kerkeenheid te lei.
So het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, gesê in sy groeteboodskap aan die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA).
Claassen het verwys daarna dat sy seun, Michiel, getroud is met Nadé, die dogter van dr André Ungerer, die nuut verkose voorsitter van die AKV. Hy het geskerts dat hy en André Ungerer dié huwelik gereël het – en dat as hulle dit kon regkry, mense mooi moet dophou wat hulle met die twee kerke sal kan doen.
Op ’n ernstiger trant het hy verwys na die skakeling tussen die NG Kerk en die Hervormde Kerk op verskeie vlakke. Dit sluit in skakeling deur ekumeniese liggame soos die Tussenkerklike Raad en die Konvent van Reformatoriese Kerke. Daarby kom samewerking met buitelandse bediening, gesamentlike teologiese opleiding by Tukkies, Bybelvertaling, en die skep en publiseer van kerkliedere.

Die bilaterale ooreenkoms tussen die kerke het hierdie samewerking wonderlike momentum gegee. Veral op die platteland is daar mooi verhale van samewerking. Predikante word oor en weer beroep en daar is samewerking in fokusareas soos die jeug, bejaardes, en manne- en vrouekampe.
Claassen het die NG Kerk se meelewing betuig met die pyn wat die Hervormde Kerk beleef het na die skeuring ’n paar jaar gelede in hulle geledere. Dit was nadat die Hervormde Kerk hom teen apartheid uitgespreek het.
Hy het ook die Hervormde Kerk se nuutverkose leierskap geluk gewens.
Ungerer, die nuwe voorsitter, is hoof van die Hervormde Teologiese Kollege wat die Hervormde Kerk se kerkeie opleiding by Tukkies behartig. Die ondervoorsitter is ds Colin Hertzog, predikant van Middelburg-Noord. Die skriba is ds Willem Kok, predikant van Potchefstroom en die vise-skriba ds Hannes van der Merwe van Pretoria-Oos.
