Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gay Hervormde dominees hoef nie selibaat te bly

Gay mense mag voortaan predikante van die Hervormde Kerk wees sonder dat hulle selibaat hoef te bly.

Dit is die implikasie van ‘n besluit wat die Hervormde Kerk se Algemene Kerkvergadering met ‘n oorweldigende meerderheid geneem het.

Die besluit sê dit nie in soveel woorde nie, maar sê wel: “Volgens die breër boodskap van die evangelie maak God se Gees dit vir mense moontlik om met hulle volle menswees in God se teenwoordigheid te lewe. Laasgenoemde sluit ook homoseksuele persone in.”

Dit is ‘n herhaling van ‘n besluit wat al in 2007 geneem is. Destyds is daar bygesê dat ‘n gay persoon wat predikant in die Hervormde Kerk wil wees, selibaat moet bly. Dié kwalifikasie is nou weggelaat sodat gay persone in verhoudings wel predikante mag wees.

Die Algemene Kerkvergadering het ook gesê dat “seksualiteit ‘n belangrike deel van ons menswees is, en dat elkeen in terme van sy of haar gewete en verstaan van die Bybel daarmee handel”.

Die Algemene Kerkvergadering sê hy besef mense wat met hulle seksualiteit worstel, kan erg getraumatiseerd wees. Dié trauma word nie gedien deur groot sinodale uitsprake nie, maar deur die liefdevolle versorging in ‘n geloofsgemeenskap.

Saam met die besluit behou die Hervormde Kerk die term “huwelik” vir die verbintenis tussen een man en een vrou.

Die kerk gaan ook nie aansoek doen dat sy predikante toegelaat word om burgerlike verbintenisse te bevestig nie. Dit staan ‘n dominee egter vry om ‘n kerklike seremonie vir gay paartjies te hou as hulle hulle burgerlike verbintenis in ‘n hof laat bevestig.

Die Algemene Kerkvergadering het ook gesê dat as ‘n dominee en sy gemeente se belange bots, weeg die belange van die gemeente swaarder as dié van die betrokke dominee.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top