Groter kerkeenheid in die NG Kerkfamilie het ’n konkrete moontlikheid geword toe die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) die voorgestelde tussenorde tussen die NG Kerk en die VGK goedgekeur het.
Die tussenorde, wat in 2015 deur die NG Kerk se Algemene Sinode goedgekeur is, skep die moontlikheid dat gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is daarvoor, self ooreenkomste kan opstel waarvolgens hulle met mekaar kan verenig.
Oor jare is daar dikwels gesê dat eenheid van grondvlak af moet groei. Op plekke soos Wynberg in die Kaap het dit inderdaad gebeur, maar dan gestuit op die kerkregtelike onmoontlikheid om inderdaad tot die eenwording van gemeentes oor te gaan. Die tussenorde maak dit nou moontlik om dit wel te doen.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderamen, sê hy is dankbaar vir dié geleentheid om “gestaltes van versoendheid” op te rig. Dit skep die geleentheid om voorbeelde van eenheid daar te stel en te wys hoe ’n kerk in Suider-Afrika kan funksioneer.
Hy voorsien dat baie ringe die geleentheid sal gebruik en dat daar ook gemeentes sal wees wat dit sal doen.
Janse van Rensburg voorsien dat daar nou in die verskillende sinodes gesprekke oor die saak gevoer sal word en oor die geleenthede wat dit bied. Dit gaan uiteindelik oor die getuienis van die kerk in die breër samelewing.
Elke sinode sal op sy eie manier die reis moet aanpak. Die tussenorde bied die ruimte dat ooreenkomste kan verskil. Daar is geen dwang nie. Elke ooreenkoms word self deur die betrokke partye opgestel en het sy eie inhoud.
Hy het ook sy dank betuig teenoor prof Leo Koffeman van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) wat die NG Kerk en die VGK begelei het met hulle kundigheid.
Die tussenorde is gebou op die ervaring van die Nederlandse Saam-op-weg-proses waardeur drie kerke verenig het om die PKN te vorm.
