By Hasie in die Holte, NG Kerk Wespoort in Danville se speelgroepie, bruis die kindertjies en die tannies wat leer, van entoesiasme.
Die entoesiasme kring verder uit na die vrywilligers wat by hulle betrokke is. Marie van Zyl, wat al 20 jaar die lang pad Wespoort toe ry vanaf Waterkloofrif, is een van die wat uitdeel van die genade wat deur God aan haar betoon word. Sy en Magda van Zyl bring vandag Bybelboekies en sommer kolwyntjies en vrugtesappies saam. Die boekies word met groot vreugde ontvang. Natuurlik geniet die kolwyntjies voorrang bo die inhoud van hulle kosblikke. Dié kan wag vir later.
Almal se vingertjies wys gelyk toe hulle gevra word hoe oud hulle is. Die onderwyseresse van die twee klassies, Mari Jordaan en Donna Engelsman, kyk trots toe. Frieda de Klerk, een van die helpers, kry hulle gereed om vir die tannies te sing. Die onderwyseresse is in diens opgelei en is self deel van die gemeenskap. Dollie Verhage bestuur die speelgroepie. Daar word baie van PEN se insette gebruik gemaak om leemtes te vul.
Die maatskaplike werker, Antoinette Victor, praat met groot deernis van die kinders. “Ons hart klop tjoklits vir hulle,” sê sy. Sy vertel dat die speelgroepie die kinders aan godsdiens blootstel; iets wat dikwels in die haglike omstandighede van baie gesinne agterweë bly.
Die tannies vertel hulle dat Jesus vir hulle lief is en dat al die tannies ook vir hulle lief is. Miskien is dít hoekom hulle met soveel oorgawe oor God se grootheid kan sing. Die speelgroepie koester die kinders. Die naam van die groepie is nie verniet Hasie in die Holte nie. Dit sê alles omtrent die koestering en liefde wat die kinders hier kry. Die kinders kry materiële hulp ook. Die maaltyd wat hulle per dag hier kry, is dikwels hulle enigste maaltyd vir die dag.
Antoinette vertel dat die speelgroepie 20 jaar gelede ontstaan het as antwoord op die behoeftes van kinders wat geen voorskoolse gereedmaking gehad het nie. Hier word vir skool gereed gemaak. “Daar het al ’n hoofseun uit ons geledere gekom,” vertel Antoinette trots. “Ons kinders druip nie. Hulle word behoorlik geassesseer.”
Die speelgroepie is geheel en al van donateurs afhanklik. Die bestuur is nie van ’n sent verseker nie.
Hulle vertrou net op God. “God is awesome,” sê Antoinette. En almal knik entoesiasties.
