Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Noorde verskil, maar wil eenheid behou

Uiteenlopende standpunte oor homoseksualiteit, maar ‘n sterk soeke om die eenheid van die kerk te behou. Dít het na vore gekom by die sitting van die NG Kerk se Noordelike Sinode buite Modimolle (vroeër Nylstroom).

Die sinode het ‘n hele oggend gewy aan ‘n bespreking van die saak, maar uiteindelik nie self standpunt ingeneem nie.

Dr Gerhard Mahne van Marikana het gesê hy vra dat die Algemene Sinode die besluite van 2015 in revisie neem, want die kerk het nog nie klaar gepraat daaroor nie. Daar is nog onsekerheid.

Hierteenoor het dr James Kirkpatrick van die Stellastraatgemeente gevra dat die sinode die besluite van die Algemene Sinode ondersteun omdat dit gewaag het om volgens oortuiging te handel, maar met respek vir diegene wat daarvan verskil.

Die sinode het nie een van die twee gedoen nie. Dit is duidelik gestel dat die besluite van die Algemene Sinode van 2015 die geldende besluite is, maar dat die buitengewone Algemene Sinode weer daaroor gaan besin.

Die debat het rustig en beskaafd verloop, maar dit was tog duidelik dat daar sterk emosies is.

Ouderling Carel Olivier van Thabazimbi het byvoorbeeld gesê vir hom gaan die hele kwessie oor Skrifgesag. In sy geloofslewe voel dit vir hom of hy die Bybel nou maar in die asblik kan gooi.

Ds Kobus Crous van Warmbad het vertel dat hy op ‘n redelik fundamentalistiese manier berading gedoen het met gay mense. Daar was een wat vinnig en permanent losgekom het van sy homoseksuele begeertes.

‘n Ander gay man het met ‘n vrou getrou omdat hy by die Bybel wou bly. In die berading het hy telkens gesê hy is nou vry van die homoseksualiteit, maar ses maande later was hy terug. Dit was vir dié man ‘n geweldige stryd omdat hy geglo het as hy gay is, word hy deur God verwerp.

Op ‘n dag het die man selfmoord gepleeg. Later, het Crous gesê, het hy gewonder of die teologie wat hy aangehang het, dié man vermoor het.

Van weerskante van die debat af is daar klem gelê op die verbintenis aan die Bybel.

So het ds Wimpie Jordt van Koedoesrand begrip gevra vir plattelandse mense wat ongemaklik voel oor die besluite van die Algemene Sinode. Om sulke lidmate as byvoorbeeld fundamentaliste uit te maak, is om karikature te teken van mense wat erns maak met die Woord, het hy gesê.

Hierteenoor het prof Malan Nel, ouderling van Stellastraat, gesê een van die redes waarom hy aan die NG Kerk behoort, is weens sy deurlopende worsteling met die Bybel. Die Algemene Sinode se besluite is geneem na ure en ure se werk met die Bybelwetenskap.

Daar was ook van weerskante af besorgdheid oor lidmate. So het ouderling Johan Labuschagne van Haakdoorn gepleit dat die kerk nie lidmate met sy besluite moet verdryf nie. Aan die ander kant het dr Ronelle Meylahn van Universiteitsoord gesê daar is ‘n groot groep mense wat hulle buite die kerk bevind het, maar wat danksy die besluite van die Algemene Sinode weer begin tuis voel.

Dr Gerrie Strydom van Florandia het gesê almal het eerlike bedoelinge. Hy het gepleit dat mense in liefde van mekaar verskil.

Dr Immanuel van Tonder van Lynwood het gesê Romeine 14 wys dat daar ruimte is vir verskillende standpunte in die kerk. Daar gaan dit oor verskillende standpunte oor die eet van offervleis, oor die hantering van slawe en oor die sabbat.

Dr Herman Carelsen van Florauna het gesê hy is bekommerd dat mense die verskille tot belydenisgrondslag verhef. Hy het gepleit dat mense dit bly hanteer as ‘n moreel-etiese saak. Dan is daar ruimte om te verskil.

Die enigste besluit wat die sinode oor die saak geneem het, is om die taakspan vir leerstellige en aktuele sake te vra om ‘n studie te doen oor die definisie van ‘n huwelik.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top