Dane du Plessis, hawesendeling vir Biblia in Kaapstad, se doel is om buitelandse vissermanne, wat onder haglike omstandighede in Kaapstadhawe aandoen, te help. CONETTE LE ROUX het met hom gesels.
Verbeel jouself jy werk op ’n skip as visserman en kry vir maande aaneen net vuil water, rys en worsies, wat reeds verval het. En boonop word jy nie betaal soos jou kontrak stipuleer nie.
“Baie van die manne sê die lewe op die skepe is soos om in ’n tronk te wees,” sê Dane du Plessis (26) in die kantoor van Biblia, waar hy verantwoordelik is vir seeluibediening – een van die fokusgroepe van Arbeidsbediening Wes-Kaap.
Dane, wat die afgelope drie jaar hawesendeling vir Biblia in Kaapstad is, vertel waarom 90% van sy werk tans gefokus is op vissermanne wat op buitelandse skepe in Kaapstad se hawe aankom.
In die Kaapse hawe vind jy die seeluibediening wat op seemanne van buitelandse skepe fokus, en in Houtbaai, Kalkbaai en Mosselbaai is ’n bediening wat op plaaslike vissermanne fokus, sê Carin Brink, streeksbestuurder van Arbeidsbediening in die Wes-Kaap.
Dane, wat onlangs ’n diploma in teologie by Unisa voltooi het, het ’n passie daarvoor om met mense van regoor die wêreld te werk, sê hy. Daarom is Biblia – ’n interkerklike bediening van die Gereformeerde Kerk, NG Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) – se teksvers vir dié bediening Matteus 28:19, nommerpas. Die bediening van die evangelie aan seelui is juis daarop gerig om die basiese beginsels van die evangelie aan alle volke, tale en nasies te bring.
“Ongeskoolde mense van plattelandse gedeeltes in China, Indonesië en die Filippyne word deur backyard agencies genader. Daar word gewoonlik ’n kontrak van ’n jaar met dié mense gesluit om op visserskepe te werk. Dollars word as lokaas gebruik. Maar toestande op dié skepe is dikwels skokkend. Die vissers kom soek dan hulp by ons,” verduidelik Dane.
Die omstandighede wat Dane beskryf is in groot teenstelling met die gewilde Kaapse Waterfront wat nie eens ’n kilometer daarvandaan is nie. Besoekers en toeriste is salig onbewus van die haglike omstandighede wat net aan die ander kant van die hawe – waar sowat 100 skepe op ’n slag vasgemeer lê – afspeel.
Dane gesels in Biblia se kantoor, wat in die Missions to Seafarers-gebou is. In dié klub het vissermanne toegang tot die internet, kan hulle eet en iets drink, TV-kyk en ’n spel pool speel.
Hy vertel van 15 Filippynse vissermanne wat soos slawe op ’n vissersboot behandel is. Eerstens was hulle veronderstel om 250 dollar per maand te verdien, maar hulle het slegs 50 dollar ontvang én is boonop die laaste twee maande voor hulle kom hulp soek het, nie betaal nie.
Volgens Dane hanteer hy en Cassiem Augustus van ITF (International Transport Worker’s Federation) saam sulke mensehandel-gevalle. In dié geval het hulle gaan aanklop by die IOM (Internasionale Organisasie vir Migrasie) wat dié 15 vissermanne in ’n veilige huis geplaas het. Hulle is later na hulle geboorteland teruggestuur op hulle werkgewer se onkoste, verduidelik Dane.
Nog ’n storie is van 30 Indonesiese en Filippynse vissermanne wat deur ’n Taiwannese kaptein mishandel is. Nege van dié vissermanne het by die “Seamans club” kom hulp soek. Die ander 21 manne was te bang om hulle voete van die skip af te sit. Volgens Dane het hulle kom hulp soek omdat die kaptein van die skip hulle fisies geskop en geslaan het. Dane sê hulle het die eienaars van die skip gekontak en eers wou hulle net wegkom met ’n brief van die kaptein waarin hy om verskoning vra vir sy optrede.
“Cassiem, wat al 35 jaar met hierdie tipe situasies werk, was woedend en het aangedring daarop dat die kaptein afgedank word. Uiteindelik is die kaptein op verpligte vroeë aftrede geplaas, is die manne na ’n veilige plek in Kaapstad gestuur en is hulle uiteindelik huis toe gestuur. Die manne se klere was uiters gehawend en ek het ook vir hulle die klere wat ek tot my beskikking gehad het, gegee. Maar dit was ongelukkig nie genoeg nie.
“Daar word gesê die seelui- en visserbediening is die bekostigbaarste en maklikste vorm van sendingwerk.
“Jy hoef nie verre lande te besoek nie – die mense kom na óns toe. Maar jy moet hier wéés.”
Help met Woord én brood
Carin Brink vertel hoe NG kerke betrokke kan raak: “Die bedryf en bestuur van seeluibediening word elke jaar aangepak in die geloof dat die Here sal voorsien. Die totale bediening word deur middel van vrywillige bydraes en donasies befonds – ’n huidige begroting van ongeveer R265 000 per jaar. Die hawesendeling, Dane, wat voltyds in diens van Biblia is, moet salaris ontvang. Die maandelikse huurooreenkoms by Missions to Seafarers moet vereffen word, maar daar is ook ’n groot behoefte aan toiletware, nie-bederfbare kos, musse (beanies), serpe en enige klere, enige grootte. Daar is ook behoefte aan komberse en natuurlik Bybels, maar meestal in buitelandse tale, so daarmee help die Bybelgenootskap. Dis nodig dat Dane se ontwikkeling nie agterweë bly nie en daarom is gereelde bywoning van konferensies onontbeerlik. Dan kan mense ook betrokke raak deur byvoorbeeld gewillig te wees om ’n tenk brandstof vir Dane te borg vir sy werksaamhede.” Carin kan by cbrink@kaapkerk.co.za gekontak word.
