Die #feesmustfall-studente op die Tukkiekampus is nie bloot ‘n klomp moeilikheidmakers wat net wil afbrand nie. Dis studente wat met opregtheid die wêreld wil verander, al doen hulle dit op die verkeerde manier.
So het dr Ronelle Meylahn, predikant van die NG gemeente Universiteitsoord, gister aan die NG Kerk se Noordelike Sinode gesê. Meylahn en haar kollegas, di Fritz Snyman en Jana de Lange, is deur hulle betrokkenheid by die studente diep betrokke by gesprekke oor die situasie op die kampus.
Meylahn het gesê daar moenie van “ons” en “hulle” gepraat word nie. Sy het dié studente ook as “ons mense” bestempel.
Sy sê as jy met die studente praat, kom jy agter dat hulle diep oortuig is van hulle saak. Hulle is belese studente, goed onderlê in die filosofie van Sartre en in menseregte.
Die #feesmustfall-studente by Tukkies kies teen geweld.
Hulle is nie ‘n rassegroep nie, maar stry vir die regte van swart en wit, van ryk en arm.
Hulle saak is ‘n moreel-etiese saak, ‘n saak van integriteit wat deur die kerk en deur baie organisasies op die kampus gesteun word.
Maar as sy dit sê, praat sy nie oor die manier waarop hulle hulle doel wil bereik nie.
Meylahn het gesê hulle is ook baie bewus van hulle eie studente se onsekerheid. Wat gebeur op die kampus, maak hulle studente bang.
Sy het gesê sy is oortuig dat hulle met deernis en sensitiwiteit na die studente moet luister. Dis duidelik dat die #feesmustfall-studente se eise gebaseer is op voorbeelde in Finland en Duitsland en dat dit nie realisties is in die Suid-Afrikaanse konteks nie. Tog staan dié studente ook op teen die regering se korrupsie.
Sy het gesê daar moet gewerk word vir oplossings deur gesprek. Deur gesprek kan ‘n mens onderhandel en oplossings vind.
Die sinode het gesê hy aanvaar dat daar meriete in van die standpunte van die #feesmustfall-studente is, maar dat daar ook studente is wie se regte in die proses verydel word. Die sinode steun die soeke na sinvolle oplossings.
Die sinode vra ook dat gemeentes Sondag op 16 Oktober sal bid vir die situasie op kampusse.
