Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Praat eers met die hele kerk’

Die NG Kerk in KwaZulu-Natal vra die Algemene Sinode om eers deeglik oorleg te pleeg met die sinodes, ringe en gemeentes van die kerk voordat daar finale besluite geneem word oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.

Dr Barry Tolmay, nuwe moderator van die sinode, sê die kerk moet nou ’n bedeling uitwerk wat ’n wen-wen-situasie vir almal skep.

Hulle het hulle laat lei deur die voorbeeld van die Protestantse Kerk in Nederland, wat maniere uitgewerk het om die verskillende kerke wat in dié verband saam­gekom het, bymekaar te hou.

Een daarvan is dat sake eers deeglik op alle vlakke van die kerk bespreek word voordat besluite deur die Algemene Sinode geneem word. Pleks van ’n benadering dat besluite van bo af kom, moet daar gewerk word na ’n bedeling waar besluite van onder af kom.

Oor die implikasies vir die besluite wat in 2015 geneem is en wat nou geld, sê Tolmay hulle vra dat daar nie nou ’n besluit geneem word nie.

Die probleem is as 2015 se besluite herroep word, neem jy ’n besluit. Aan die ander kant, as die besluite nou uitgevoer word, neem jy ook ’n besluit. KZN se gedagte is dat die besluite eers “’n bietjie hang”, dat die pas markeer word sodat die hele kerkverband geraadpleeg word.

Hulle wil by hulle volgende predikantekonferensie in Maart vir dr James Kirkpatrick, assessor van die Noordelike Sinode, en dr Chris van Wyk, moderator van die Oos-Kaap, kry om met hulle te praat oor die uitleg van die tekste. Daarna sal KwaZulu-Natal gereed wees om hulle insette te lewer.

Tolmay sê die Algemene Sinode kan nou ’n besluit neem wat tot baie spanning lei, of oor ’n jaar ’n besluit neem wat baie meer rustigheid sal bring.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top