Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Japie du Plessis neem vir oulaas die opening waar by 'n sinode van die NG Kerk. Foto: Neels Jackson

God se donkie groet

Op die ouderdom van 84 het ds Japie du Plessis vir oulaas die opening by ‘n sinode waargeneem.

Oom Japie, soos hy wyd bekend is, is ‘n afgevaardigde by die sitting van die Sinode Goudland. Hy het aangedui dat dit sy laaste streeksinode is.

In sy lang kerklike loopbaan het Oom Japie diep spore getrap.

Oom Japie vertel dat hy as sendeling opgelei is by die Sendinginstituut op Wellington. Dit was gehuisves in een van die geboue wat nou deur die Wes-Kaapse sinode ontwikkel gaan word as die Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit.

Oom Japie sê dat hulle as sendelinge opgelei is, en nie as evangeliste soos Kerkbode vroeër berig het nie. Hulle het die titel “eerwaarde” gedra tot 1962 toe die Kaapse sinode besluit het dat daar geen verskil tussen dié sendelinge en dominees is nie. Toe het hulle ook dominees geword.

Dié groep sendelinge het die eretitel “donkies” gekry. Dit het gekom nadat Andrew Murray gesê het soos ‘n donkie vir Jesus in Jerusalem ingedra het, so moet hierdie sendelinge die evangelie in Afrika indra.

Oom Japie het in sy lang loopbaan onder meer gedien as aktuarius van die sinode van die destydse Suidwes-Afrika, en twee maal as voorsitter, twee maal as onder-voorsitter en een maal as skriba van die sinode van Wes-Transvaal.

In sy laaste opening by die sinode het hy klem gelê op persoonlike stiltetyd wanneer ‘n mens alleen by God is. Hy het die sinode ook aangemoedig om as sinode saam agter Jesus Christus, die groot Oorwinnaar, aan te stap.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top