Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die een kant van Stellenbosch: die welvarende dorp met die Moederkerk aan die bopunt van die straat. Foto's: Jacobie M Helena

Twee Stellenbosche verg ’n konstante bekering

Tussen die NG gemeente Stellenbosch en die Legacy-gemeenskapsentrum in Kayamandi het daar die afgelope jaar nuwe verhoudings gegroei. Jacobie M Helena het gaan luister na van die stories.


“Hierdie is nié ’n storie van ’n uitreik nie. Dit is nié ’n storie van rykes wat vir armes sorg nie. Dit is nog méér nié ’n storie van wittes wat vir swartes wil sê hoe om te lewe nie. Hierdie storie is ’n storie van gelykheid tussen men­se. ’n Storie gefundeer in God se opregte liefde,” maak Jaco Botha dit duidelik.

Jaco is ’n finalejaar-teologiestudent en hy praat oor die Legacy-gemeenskapsentrum in Kayamandi, ’n swart woonbuurt in Stellenbosch, en oor sy betrokken­heid daar.

Die Legacy-gemeenskapsentrum lewer sedert 2001 ’n reeks dienste aan die gemeenskap van Kayamandi. Dit is begin met die doel om vir skoolgaande kinders smiddae met huiswerk en die vaslegging van hul skool­werk te help.

Dié onderliggende Christelike sentrum bied nou ’n reeks dienste soos programme vir volwassenes, sportprogramme vir die kinders, naaldwerkprojekte en die fasilitering van mentorverhoudinge vir die tieners in Kayamandi.

Dit is verál die sentrum se verhouding met Stellenbosch Moederkerk in tye van #luister en #feesmustfall wat vanjaar die hart van die evangelie in Stellenbosch laat klop het.

Jaco is sedert 2013 weekliks by die Legacy-sentrum betrokke.

Hy sou aanvanklik net Bybelstudie met die graad 10-tieners gedoen het, maar het besef dat hy die Bybel vanuit ’n teologiese arrogante plek lees. “As jy, as ’n wit persoon, die Bybel saam met swart tieners in Kaya­mandi lees sonder dat dit basiese teologiese vrae oor ideo­logieë soos rassisme, klassisme en ongelykhede laat ontstaan, is jy net weer besig om hulle subtiel wit te maak.”

Jaco vertel dat een van die prominentste Legacy-ervaringe was toe die groep tieners by hom en sy vrou kom oornag het. “Die een seun het byna ’n uur gestort. Dit was vir my vreemd. Ek hoor toe later dat dit die eerste keer in sy lewe was wat hy gestort het.

Dís die definisie van die ongelykheid waarin ons leef. Sulke stories bekeer my daagliks van my white privilege.”

Twee Stellenbosche

Jaco doen vanjaar sy gemeentejaar by die Moederkerk in Stellenbosch onder die mentorskap van dr Johan van der Merwe. Johan vertel dat Jaco se gawe as inter­kulturele fasiliteerder en brugbouer daartoe gelei het dat daar gesprekke tussen die wit NG Kerk in Stellenbosch en die swart leiers in Kayamandi plaasgevind het.

kayamandi
Die ander kant van Stellenbosch: ’n straattoneel in Kayamandi.

Oor sy eie geloofspad sê Johan: “Tydens al die woelinge wat ’n jaar gelede op Stellenbosch se kampus aan die gang was, het ons as gemeente pynlik bewus geword van die afstand tussen bevolkingsgroepe wat steeds voortduur en dat ons nie na mekaar luister nie.

“Die #luister-video wat ’n jaar terug versprei is, het ons laat vra of ons werklik luister. Gevolglik is daar ruimtes geskep waar mense oor grense bymekaar kon kom.”

Johan vertel van gesprekke met die jeugleiers van onderskeidelik die Open Stellenbosch-beweging en Legacy-sentrum wat hom sal bybly.

“Stellenbosch is nie ’n homogene ervaring nie. Daar is twee Stellenbosche. Daar is die Stellenbosch as ’n prag­tige prentjie vir toeriste, die akademiese prentjie wat ons in die universiteitsgemeenskap wys en die suk­sesprentjie wat ons in ons besigheidskonteks voor­hou. Máár daar is óók ’n ander Stellenbosch. Dié Stel­len­bosch is onsigbaar. Dit lê versteek in die prentjiemooi Stellenbosch. Maar as die versteekte Stellenbosch éérs vir jou ontbloot is, kan jy maak wat jy wil, jy kan nie daardie ‘sien’ ongedaan maak nie.”

Johan het vanuit dié gesprekke ’n spesiale verhou­ding opgebou met Yamkela Nqevu, een van die Legacy-sentrum se leiers.

“Ek het sy storie leer ken en hy myne. Wanneer ’n mens iemand se storie hoor, verander dit iets in jou. Ek het gewonder of daar nie iets is wat ek kan doen om hom te ondersteun in die verwesenliking van sy drome nie. Bystaan, maar sonder dat dit vir hom voel dat ek nie sy vermoëns, bronne en leefwyse respekteer nie. Ek stap dáárom tans die pad na sy leerlinglisensie met hom. As hy sy bestuurslisensie kan kry sal dit so­veel méér werksgeleenthede vir hom oopmaak.

bestuursles
Scherlize Hayes neem vir Yandisa Xundu vir ’n bestuursles.

“Dié pad neem toe ook ’n interessante wending om­dat my graad 11-dogter óók die ambisie van ’n leer­linglisensie het. Ons drie het dus saam die ver­keers­departement aangedurf. My dogter is egter die eerste keer deur en Yamkela nie. Ek moet benadruk dat dit nié ’n aanduiding van intelligensie is nié. Yamkela het bloot nie die soort ondersteuningsbasis wat my dogter het nie. Weer die gevolg van die ongelykheid van die twee Stellenbosche. Dáárom gaan ons weer probeer. Dié keer met méér mentorskap en hulp. Ons gaan hier­die ding sáám regkry!”

Die droom om ’n bestuurslisensie te bekom is nié net vir Yamkela ’n uitdaging nie, maar óók vir Yandisa Joshua Xundu. Ruan Nieuwenhuizen en Scherlize Hayes, albei MDiv-teologiestudente, stap, oftewel ry, ’n pad met Yandisa en ander matrieks by die Legacy-sen­trum om hulle te leer bestuur.

Ruan dink terug aan die eerste bestuursles wat hy met Yandisa gehad het.

“Die eerste les was moeilik. Hy het gesê dat hy van­tevore al een keer bestuur het, maar een keer was klaar­blyklik nie genoeg nie,” skerts Ruan. “Yandisa het on­gelooflik baie gestres en nie geweet waar en wanneer om wat te doen nie, maar stadig maar seker het hy gevorder. Hy bestuur nou al redelik goed.”

Dis Scherlize wat tydens haar tutorsessies in Ekono­mie en Wiskunde-geletterdheid by die Legacy-sentrum die leemte raakgesien het wat die matrieks er­vaar het omdat hulle nie self kon bestuur nie.

“Ek het besef die leerders met wie ek tot dusver verhoudings gebou het, kan nie bestuur nie. Ons het begin om elke leerder ’n bestuur-mentor te gee en almal kan nou bestuur.

“Ek het hulle ook probeer help om vir hul leerlinglisensies voor te berei. Ek onthou nog die dag toe hulle gaan skryf het. Ons het só hard geleer en ek het soveel hoop en verwagting gehad. Ek het gespanne vir hulle by die verkeersdepartement gewag. Dit het my hart ge­breek toe een na die ander na my terugkeer en sê dat hulle nie deurgekom het nie. Daar het nie een van die ma­trieks daardie dag deurgekom nie. Ek het skielik op­nuut baie bewus geword van my witheid en dat ek vir die grootste deel van my lewe verby die onge­reg­tig­hede in ons gemeenskappe gekyk het.”

Ons verstaan nie

Die verhouding wat daar tussen Stellenbosch se Moe­der­kerk en die Legacy-sentrum bestaan, is nog nuut en aan die groei. Dis egter nié die invloed wat Jaco, Jo­han, Ruan en Scherlize op die mense by die Legacy-sentrum het wat uitstaan nie. Dis júis die verskuilde en weggesteekte Stellenbosch wat al hoe meer sigbaar word. Die verskuilde sleg én die goed van die ander Stel­lenbosch.

Ons verstaan glad nie “black disadvantage” nie, sê Ruan. “Yandisa het my van die sosiale euwel van taxi­ge­weld in Kayamandi bewus gemaak. Nadat een van die taxibestuurders aangeval is, het die taxigemeenskap reg in eie hande geneem en die aanvallers dood­ge­maak. Die gevolg is dat die huis- en tuinwerkers óf kilo­meters moet stap óf vir hul lewe moet vrees om in Stellenbosch in ons kombuise en tuine te kom werk. Iewers is iets groot fout,” meen Ruan.

Johan beaam: “Die inwoners van Kayamandi moet byvoorbeeld doodseker maak dat hulle netjies en professioneel aangetrek is as hulle ‘dorp toe’ gaan, want anders word hulle deur sekuriteitswagte in elke winkel waarin hulle gaan, agtervolg. Hierdie stories laat my besef dat ek nooit eens daaraan dink dat iemand mý as verdag sal beskou en bloot op grond van my velkleur sal verdink van misdadigheid nie.”

Ruan is verstom oor die manier wat die gemeenskap by die Legacy-sentrum mekaar bystaan.

athenkosi
Athenkosi Mantshi, ’n seun met wie Jaco Botha reeds ’n twee jaar lange pad stap, staan saam met hom buite die Legacy-gemeenskap­sentrum in Kayamandi. Athenkosi was deur sy skoolloopbaan by die Legacy-sentrum betrokke en gaan volgende jaar met ’n volle beurs BRek aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

“Dis vir my ongelooflik, die manier waarop die tie­ners mekaar help. Jy het nie klaar studeer voordat jou vriende ook die werk verstaan nie. Ons kan in Kaya­man­di gaan leer wat dit beteken om werklik as ge­meen­skap saam te leef.

Scherlize beaam: “My betrokkenheid by die Legacy-sentrum beteken baie meer vir mý as wat ek vir hulle be­teken. Maar, dis nie gemaklik en altyd lekker om hier te wees nie, want jy word met soveel dinge gekon­fron­teer. Dis ’n konstante bekering om mense wat anders as jy is as gelykes te sien.

“Dis ongelooflik hoe baie meer energie ek vir my teo­logiese studies het vandat ek daar betrokke geraak het. Dit voel of my studies by ’n groter doel inpas. Ek kan nie glo ek het dit reggekry om die afgelope vier jaar te studeer sonder om by Legacy betrokke te wees nie.”

Johan vertel hoe sy verhouding met Yamkela ook sy nadenke oor geloof beïnvloed het: “Ek het God nog altyd verstaan as die een wat diegene wat uitgesluit word, gaan haal en insluit, dikwels ten koste van dié wat in hulle eie mag en insig roem, maar ek twyfel of ons dit regkry om dié liefde van God al in Stellenbosch te leef.”

Die storie van die barmhartige samaritaan, soos Tom Smith dit vertel, het vir Jaco nuwe betekenis gekry vandat hy by die Legacy-sentrum betrokke geraak het.

“As ek Legacy toe gaan, voel ek soos die man wat ge­broke en vernederd langs die pad lê. Yamkela, Yan­disa en Athenkosi en die vele ander by die sentrum stop by my, bewys aan my liefde, verbind en versorg my wonde en help my weer regop. Dís die vernederde bro­se liefde van God wat ek weekliks by Legacy ervaar.”

Besoek legacykayamandi.com vir meer inligting.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top