Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die sinode Goudland se nuwe logo.

Wes-Transvaal word nou Goudland

Die NG Kerk in Wes-Transvaal gaan voortaan bekend wees as die NG Kerk se Sinode Goudland.

Die sinode het hierdie naam gister op sy vergadering in Randfontein gekies. Daarmee word Goudland die laaste sinode wat die naam “Transvaal” uit sy naam verwyder het. Vroeër het die Oos-Transvaalse sinode die Oostelike Sinode geword, Noord-Transvaal die Noordelike Sinode en Suid-Transvaal het Hoëveld geword.

Die naam Goudland sluit nie net aan by die goudmyne in sy gebied nie, maar ook by die spreekwoordelike goud van sy landbou, die goud van sy skole en universiteit, die goud van sy mense en die goud van die evangelie.

Die sinode het ook ‘n nuwe logo goedgekeur waarin ‘n rivier, ‘n bewerkte land en goue koringare saam gebruik word.

Dit alles vorm deel van die begin van ‘n nuwe hoofstuk in dié sinode se geskiedenis waarin die fokus op ‘n missionale benadering gaan val. Gemeentes sal ook steeds die sinode se fokus wees.

Ds Johan Brink van Fochville-Noord is verkies tot nuwe voorsitter van die sinode. Hy volg ds Norma Rossouw op. Sy was glad nie weer beskikbaar vir die leierskap nie, omdat sy meer tyd by God, by haar gesin en aan haar gemeente wil bestee.

In ‘n reeks besluite het die sinode ook vier waardes goedgekeur wat voortaan grondliggend gaan wees aan al die werk wat die sinode doen: die dryfkrag van die liefde van God, luister, egtheid en omgee.

Die sinode se visie is: God se liefde met egtheid en omgee uitleef. Die missie is: Om in God se liefde luisterende missionale gemeentes in God se wêreld te wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top