Kinders steier onder sakke met plastiekbottels, glasbottels, blikkies, plastiek, papier en karton op pad na die NG gemeente Moreletapark se Blousaal. Dis deel van ’n herwinningsprojek wat gaan oor meer as herwinning. Dit gaan oor transformasie. Isabel Ballot vertel.
“Phendula is ’n Zoeloe-woord wat beteken om te transformeer,” verduidelik Retha Erasmus, koördineerder van gemeenskapsontwikkeling by Moreletapark. Op hierdie Saterdagoggend is die Phendula egter ’n geldeenheid wat gebruik word by Moreletapark se herwinningsaksie.
Retha vertel die boek When helping hurts (deur Steve Corbett en Brian Fikkert) het die kerk in hulle gemeenskapsontwikkeling geïnspireer. Die hoofbeginsel van die boek is om te gee sonder om seer te maak. Soms gee die wat het, uit eie selfsug. Mense wil goed voel omtrent hulleself.
Om nét te gee, kan die ontvanger egter seermaak. Dit kan die ontvangers se menswaardigheid aantas, want hulle voel dat hulle hulleself nie kan help nie. Daarom wil Moreletapark projekte aanpak wat die menswaardigheid van die ontvanger nie skade aandoen nie. Met hierdie herwinningsaksie poog Moreletapark-gemeente om te gee sonder om seer te maak.

“PEN (’n middestadsbediening in Pretoria) het ’n paar jaar gelede met die idee van bemagtiging deur herwinning in die middestad begin en dit die Phendula Children’s Store genoem. Kerksondermure en Moreletapark het in ’n stadium besluit om iets soortgelyk te doen en dit is wat vandag hier gebeur. Gister het PEN in die middestad herwin en vandag is dit kerksondermure in Centurion. Moreletapark en kerksondermure is vennote van PEN: hulle het almal saamgewerk om items vir die winkels in te samel. Hulle het ook saam bemarking gedoen. Daar is onder andere ’n kort bemarkingsvideo gemaak deur kerksondermure wat per e-pos versprei word,” sê Retha.
Op die video vertel ’n vriendelike jong meisie van die Phendula Children’s Store. “Om ’n children’s store te hê, het jy ’n child en ’n store nodig,” lag sy. Sy teken vinnige oulike prentjies om voor te stel hoe die kyker betrokke kan raak: deur ’n voertuig beskikbaar te stel, in die winkel te werk, die kinders te help en te begelei met hulle aankope.
MPG en Pure Hope het ’n paar maande voor vandag se groot geleentheid begin voorberei vir vandag. Pure Hope is Moreletapark se eie skool waar die kinders van Woodlane Village, die plakkerbuurt langs die kerk, skoolgaan. Saam het hulle die kinders van die waarde van herwinning bewus gemaak deur middel van lestemas en kompetisies.
“Die kinders het reeds ses weke lank die geleentheid gehad om weekliks hulle herwinbare materiaal te bring en ons het rekord gehou wat hulle daarmee verdien het,” vertel Retha.
Vanoggend dra hulle nog sakke vol herwinbare materiaal aan: plastiekbottels, glasbottels, blikkies, plastiek, papier en karton. Dié vat hulle na die tafels voor in die kerk se Blousaal, waar vrywilligers dit sorteer in groot wit sakke.
Party items is so geroes dat dit amper uitmekaar val. Daar is ’n groot ashoop in Woodlane Village waar die kinders rondgekrap het en daar is ook items uit hulle eie huise gebring.

Nadat die materiaal gesorteer is, word die twee bedrae bymekaar getel: dít wat hulle vanoggend verdien het en dit wat hulle in die vorige ses weke versamel het. Dan word die Phendulas op ’n koopkaart aangedui en begeleiers vat die kinders na ’n “winkel” waar hulle kruideniersware, skoonmaakmiddels, lekkers, klere, skoene en skryfbehoeftes kan koop.
Moreletapark en kerksondermure het hierdie items vooraf versamel. Daar is met ’n ruim hand en hart gegee. Soos ds Greta Serfontein, een van Retha se medewerkers aan die projek en leraar by Moreletapark, Jesus se woorde uit Handelinge 20:35 aanhaal: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”
Die kind kan nie net lekkers of net skryfbehoeftes koop nie. Daar is vyf verskillende kooppunte: een vir toiletware, nog een vir skryfbehoeftes, ’n derde vir nie-bederfbare kos, ’n vierde vir klere en die vyfde vir lekkers en koeldrank. Elke kind moet by elkeen van dié punte iets koop.
Die kinders leer hoe om vir hulleself te sorg, maar ook om hulle gesin in ag te neem. In plaas daarvan om net vir hulleself te koop, kan hulle besluit om ook blikkieskos of skoonmaakmiddels vir die huis te koop.
Buite die saal kan die kinders ’n foto laat neem teen die prys van een Phendula. Teen 11:00 is die inkope klaar en almal kry ’n worsbroodjie en ’n koeldrank. Die geesdrif straal uit hulle uit. “Teacher, this is the best day of my life,” sê enetjie.
By nabetragting vertel Retha dat hulle nie net iets vir die gemeenskap wou doen nie. Hulle het ander, in hierdie geval kinders, in die proses raakgesien en bemagtig om te gee vir hulle omgewing en ekonomiese beginsels aan te leer.
Hulle het lewenslesse geleer soos dat werk gelykstaan aan vergoeding en dat items verskil in waarde.
Die herwinningsaksie was baie suksesvol. Sowat 30 van die reuse-suikersakke wat vir herwinning gebruik word, is volgemaak.
“Ons wil dit volgende jaar weer doen. En dan wil ons nog ander gemeentes saamnooi,” sê Retha.
