Fokus op die verlossing deur Jesus Christus en op die feit dat die Heilige Gees in gelowiges woon, eerder as op duiwels en demone.
Dit is die advies van ds Heerden van Niekerk in die lig van die polemiek wat losgebars het om die kop van ds Chris Saayman van die NG gemeente Tafelberg. Saayman het op sy gemeente webwerf geskryf oor demone en bindinge en dit het allerlei vrae ontlok oor die NG Kerk se siening hieroor.
Van Niekerk, voorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, wys daarop dat daar nie in die Bybel ‘n uitgewerkte siening van duiwels en demone is nie. Jesus Christus is die Hoofkarakter in die Bybel. Oor Hom word daar baie geskryf.
Uit die besluite van die Algemene Sinode is dit duidelik dat die NG Kerk wel ruimte laat vir die uitdrywing van demone of duiwels, maar net as ‘n “buitengewone bedieningshandeling”.
Daarvoor het die Algemene Sinode duidelike voorwaardes gestel om seker te maak dat sulke bedienings mense nie skade doen eerder as om hulle te help nie.
So het die Algemene Sinode gesê dat ‘n bediening van bevryding nie sommer as roetine beoefen mag word nie. Dit moet net in buitengewone gevalle gedoen word.
Tweedens moet die kerkraad en ring toesig hou daaroor en daar moet verslag oor so ‘n bediening aan die kerkraad en ring gedoen word.
Derdens moet iemand wat vermoedelik deur demone of duiwels besete is, ook vir mediese evaluering verwys word. Dit is om seker te maak dat siektes soos psigiatriese versteurings nie as besetenheid gehanteer word nie.
Van Niekerk beklemtoon dat ‘n multi-disspilnêre span waarin dokters, psigiaters en sielkundiges insette kan lewer, baie belangrik is.
Vierdens moet dominees en beraders baie versigtig wees vir byvoorbeeld die neiging om te dink daar skuil magiese kragte in sekere voorwerpe. Hulle moet ook lang konfronterende gesprekke met bose magte vermy.
Vyfdens moet mense onthou dat die Gees van Christus leef in mense wat aan Hom behoort en sy Naam bely. Enige vorm van bevryding wat die wat die werk van Christus minag of sy volkome verlossingswerk in gedrang bring, is onaanvaarbaar.
